SPORT NUUS - Die George-span, wat op Donderdag 27 Oktober aan die streekkompetisie van die Golden Games in Oudtshoorn deelgeneem het, het die stad se naam hoog gehou.
Die span wat uit 50 deelnemers en 10 ondersteuningspersoneellede bestaan, het baie goed presteer.
Soos gewoonlik het die jaarlikse geleent-heid vir groot opwinding gesorg. Die inisiatief is in 2006 deur die departement van maatskaplike dienste begin.
Oor die jare het dit groter geraak en dit is uitgebrei tot op nasionale vlak waar ander provinsies ook betrokke is.
Tydens vanjaar se geleentheid het spanne van Bitou, Knysna, George, Mosselbaai, Hessequa en Oudtshoorn deelgeneem. Daar is twee afdelings, naamlik die 60+ en die 70+. Mans en vroue het meegeding.
Daar is in verskeie sportsoorte meegeding wat ingesluit het jukskei, rugbybal gooi, naellope en velditems.
Deelnemers in een van die baanitems in aksie.
Mario Jansen van die departement maatskaplike ontwikkeling en afrigter van die span, het Dinsdag 1 November gesê George se span het bo verwagting goed presteer. "Ek is tevrede. Die span het vooraf baie geoefen en was goed voorbereid."
Volgens hom beteken dit baie vir die bejaardes. "Baie van hulle is aktief en gesond. Hulle kan nog deelneem aan sport."
Die plan is dat 'n span van George weer aanstaande jaar aan die geleentheid gaan deelneem. Hy het bejaardes genooi om betrokke te raak.
Blanche Benjamin wat aan die jukskei deelgeneem het, het gesê daar was 'n wonderlike gees tydens die geleentheid. "Die bejaardes het dit baie geniet. Vir my persoonlik het dit baie beteken. Dit gee vir 'n mens 'n rol om te speel. Sport is 'n wyse om dit te doen."
Sy wil weer aanstaande jaar deelneem. "Ek sien uit daarna en wil nou al begin oefen."
Benjamin sal graag wil sien dat die geleentheid in George plaasvind en die breë gemeenskap van George dit kan beleef.
Gert Niehaus van Avbob, wat self die geleentheid bygewoon het, het gesê hy het dit baie geniet. Die plaaslike deel van die maatskappy het die T-hemde van die George-span geborg.
"Dit was 'n fantastiese geleentheid. Dit was baie suksesvol en aangenaam om die bejaardes weer te sien deelneem na twee jaar van Covid wat niks gebeur het nie."
Volgens Niehaus is sulke geleenthede baie belangrik. "Dit was opvallend dat die bejaardes baie mededingend en ernstig was oor hul deelname.
"Bejaardes moet tussen mense wees en nie alleen op 'n hopie gaan sit nie. Ons moet terugploeg en belê in hulle."
Deelnemers in aksie.
Lede van die George-span in Oudtshoorn.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'