TUINROETE NUUS - Eden-jaggeweerskiet bied op Saterdag, 16 Maart die jaarlikse Eden Ope aan op Louvain Gasteplaas in die Bo-Langkloof.
Die jaarlikse immergewilde jaggeweerskietkompetisie word in samewerking met Kloppers, George aangebied as hoofborg vir die dag. Skuts sal uit verskeie jagposisies getoets word oor onbekende afstande op vier papier- en twee staal-gongbane.
Pryse en gelukstrekkings ter waarde van R100 000 is op die spel vir wenners in die verskillende kategorieë.
Hiertydens sal die eerste been van die interdistrikte kompetisie tussen Eden, Kaapse Wynlande en WP se senior, vroue en junior spanne ook plaasvind en glo ons die verkose skuts sal Eden-distrik se naam hoog hou.
Verrigtinge skop vanaf 07:30 af met registrasie en inskietbane vir die wat 'n laaste paar verstellings wil aanbring. Die skiet behoort teen 15:00 afgehandel te wees waarna die prysuitdeling en aand se verrigtinge met 'n ete afgesluit word in Louvain se onthaalsaal.
Daar word ook die eerste keer vir 'n standaard .222/223-kaliber kategorie voorsiening gemaak.
Inskrywings vind plaas op Suid-Afrikaanse Jaggeweerskiet se nasionale webblad.
Teikens op baan 5.
Teikens op baan 1.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'