Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Lede van die Neill Calitz Skietklub het hulle 2022-jaareindfunksie en 2023-verwelkoming op Donderdag, 9 Maart in die lokaal van die Mosselbaai Posduifklub gehou.
Die geleentheid is op 'n gesellige noot afgeskop met een van die senior lede, Gert Nel, wat die lede laat skaterlag het met die vertel van 'n humoristiese gebeurtenis. Nog 'n lid, Hannes Ingram het almal met sy sang en kitaarspel vermaak.
Die hoogtepunt van die aand was die prysuitdeling van trofeë aan die top presteerders van 2022. Bennie van den Heever is as kampioenskut van die jaar aangewys met Willie Germishuys die meesterskut, Suzette Herrer die vroueskut, Calie Brown die 9mm-skut en Liam Brown die topskut van die jaar. Spesiale toekennings is ook gemaak aan Daleen Nel en Johanna Germishuys wat as gereelde tellinghouers opgetree het.
FOTOGALERY: Neill Calitz skietklub prysuitdeling
Neill Calitz, eienaar van die klub, het die lede geloof vir hul goeie sportmanskap deur die jaar en ook bedank vir hul toegewydheid tot die sport en hul bydrae tot die sukses van die klub. Hy het hulle ook alle voorspoed toegewens met hul deelname hierdie jaar.
Byeenkomste
Die klub se volgende maandelikse skietkompetisie vind op Saterdag, 1 April op die Pienaar-skietbaan plaas. Die kompetisie begin om 09:00 en duur tot ongeveer 13:00.
Die volgende skietoefening vind op Woensdag, 22 Maart plaas. Alle lede is welkom om deel te neem.
Vir enige navrae kontak Suzette (082 478 8090).
Bennie van den Heever is as kampioenskut van die jaar aangewys.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’