Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Clarissa Steenekamp, Mosselbaai se 11-jarige boogskietsensasie, het by die 2023 Wêreld Boog-skietkampioenskappe in Kent, Engeland met 'n silwer medalje in die Cub Female Bow Unlimited kategorie weggestap.
Net vyf punte het tussen haar en goud gestaan.
Die Mossel Bay Advertiser het by die Steenekampgesin gaan kuier nadat Clarissa op 24 Februarie terug gearriveer het in Mosselbaai. Die jong meisie het van kleintyd af saam met pa Jaco gaan jag en is later jare by haar vorige skool geprikkel deur die boogskiet-sport wat haar lewe baie verander het.
Met haar toewyding en haar pa en ma Brenda se opoffe-rings, het hierdie klein meisiekind binne twee jaar met 'n unieke aanleg en talent vir die sport, in 2022 haar provinsiale- en nasionale kleure verwerf.
Sy het in Februarie 2021 met die sport begin.
Sy is egter nog te jonk vir Protea-kleure en is opgeneem in die Suid-Afrikaanse Federasie-span wat aan die kampioenskap gaan deelneem het.
FOTOGALERY: Clarissa die 11-jarige boogskietsensasie
Pa Jaco vertel dat hy Clarissa die hele Desember elke dag na die baan gevat het vir oefening. Vir Clarissa was die kompetisie in Engeland 'n leerskool. Dié graad 7- leerder van Laerskool Hartenbos is van nature nederig, kalm en gemotiveerd. Om nie eens te praat van die sterk arms om daardie boog te span.
"Ek was die eerste dag op die baan met die oefening nie bang nie en het lekker geoefen," vertel sy. Op die eerste dag van die skietkompetisie het hierdie sterretjie van Mosselbaai 299 uit 'n totaal van 300 geskiet wat op sy eie moontlik 'n wêreldrekord is in die Cub Female Bow Unlimited kategorie.
Jaco vertel dat hulle net wag vir die amptelike dokumentasie om dit te bevestig.
Suid-Afrika het weer eens bewys dat hulle skuts van uitstaande gehalte het en 34 skuts is na Engeland vir die kompetisie en het geseëvier met 27 medaljes wat selfs Engeland met hulle 57 deelnemers en 'n totaal van 21 medaljes, in die stof laat byt het.
Buksie maar 'n bielie van 'n skut wat Suid-Afrika en Mosselbaai trots gemaak het by die 2023 Wêreld Boogskiet Kampioenskappe in Kent, Engeland.
Suid-Afrika se skuts het 11 goue medaljes, 13 sliwer en drie brons medaljes huis toe gebring. Van regoor die wêreld het 523 skuts aan die kampioenskappe deelgeneem.
VIDEO: Clarissa wen silwer in Engeland
In Clarissa se kategorie het Skyla Maree, ook van Suid-Afrika, die goud gewen met 'n totaal van 840. Clarissa het 835 geskiet oor die drie dae en Annabel Stoneham van Wallis was derde met 773.
"My tweede dag was ek baie gestres en ek het 10 punte agter die voorloper geskiet vir die dag en 7 punte op die totaal agter die voorloper gestaan na twee dae se skiet," sê Clarissa.
Met die laaste dag het sy weer 'n fantastiese 298 geskiet wat haar net 5 punte van die goue medalje laat eindig het.
"Ek wil in die volgende twee jaar net elke keer die nasionale span haal sodat ek na die 2025 Wêreld Boogskietkampioenskappe in Argentinië kan gaan," sê sy. Haar droom is om aan die Olimpiese Spele deel te neem en met die talent wat die jong meisie nou het, is die Olimpiese Spele moontlik binnekort deel van haar lewenservaring.
Clarissa staan trots met haar landsvlag op die podium met haar tweede plek.
DIe spogmedalje waarop enige boogskutter jaloers sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'