TUINROETE NUUS - Die 28ste interprovinsiale tweekamp-byeenkoms vind op Saterdag, 2 Februarie plaas. Dié sportgeleentheid word deur DCAS/Oudtshoorn en Highgate Volstruisplaas op Oudtshoorn aangebied.
Sover bekend, is daar nie nog 'n tweekamp interprovinsiale byeenkoms met so 'n lang onafgebroke geskiedenis van aanbieding in Suid-Afrika nie. Op hierdie dag spook sewe provinsies (WP, Boland, Eden, OP, Vrystaat, Grens en Griekwas) dit weer uit.
Dit is dan ook die eerste keer dat die ou SWD Tweekamp onder hulle nuwe naam van EDEN Tweekamp deelneem.
Verlede jaar is nie minder nie as agt byeenkomsrekords en twee SA rekords daar gestel en 520 atlete het in absoluut ideale weersomstandighede mekaar die stryd aangesê en tweekamp uit die boonste rakke. Vanjaar se inskrywings staan op 'n ongelooflike 619 – 'n groei van amper 30%.
Dit sal dan ook die grootste Highgate Interprovinsiaal ooit wees. Nog nuwe aanpassings is deur SA Tweekamp ingebring hierdie seisoen benewens die o/8-ouderdomsgroep (swem 25m, hardloop 400m) wat verlede seisoen ingebring is. Die die seuns vanaf o/15 tot by die seniors hardloop nou 1 600m. Die skolekompetisie waar van die top skole van die provinsies meeding het gekom om te bly.
Van die bekendes in die sportwêreld wat hulle teenwoordigheid aangedui het, is die Wes-Kaapse minister van sport, Anroux Marais, Blackie Swart (president: SA Tweekamp), raadslid Nolutando Mwati (onderburgemeester, Oudtshoorn), Archie Markgraaff (SA tweekamp ere-president), Desmond Speelman (voorsitter Eden- sportraad), Johan en Viljee Keller (Highgate-eienaars), Len Symington, Deon Human, Johan Ferreira en Gerhard Louwrens (SA bestuur) en provinsiale voorsitters.
Van Suid-Afrika se top tweekampatlete gaan mekaar weer aandurf. Onder hulle is Mike Forbes (Grens), Johan Windt, Tanya Osborne, Herman Spangenberg, Walter Lutsch, Pieter van der Mescht, Denise de Jongh, Jada Coetzee, Mathew Seabrook en Minke Janse van Rensburg (Eden), Retief Ochse, Kelly Vroon, Adrian Taylor, Phillip Fouche, Isabella Carneiro, Aimee Scott, Maryne Louwrens en Derek Oehley (WP), Keira van Heerden, Wehan Smith, Anke Serfontein, Code Coombe-Davis en Gareth Vorster (OP). Provinsies gebruik graag hierdie byeenkoms om aan hulle spanne vir die SA kampioenskappe wat vanjaar 29 en30 Maart in die Port Elizabeth plaasvind, te skaaf.
Highgate-volstruisvertoonplaas (ankerborg van EDEN Tweekamp) en Kangogrotte, bied weer spesiale aansporingpryse aan vir alle wenners. Die ander groot borge is die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport (DCAS), Oudtshoorn-munisipaliteit en KKI.
Dit maak dit naas die SA kampioenskappe die grootste tweekampbyeenkoms in Suid-Afrika. Die spankompetisie gaan vanjaar groot uitdagings van WP (152 atlete), Boland (180 atlete), EDEN (133 atlete) en OP (122 atlete) vereis. Elke provinsiale span word ook toegelaat om 'n A-span, B-span en ontwikkelingspan in te skryf. Dit is een van die min byeenkomste waar die ontwikkelingsatleet ook tot sy reg kom. Items vir die gestremde atlete is nou al 'n standaard item op die program. Hulle baanitem bestaan uit 400m en swem 50m.
Vir enige navrae kontak Dave van der Walt (082 773 4901).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'