MOSSELBAAI ROLBAL-NUUS - Ou vriende het in die gees van sport tydens die Groot-Brakrivier-rolbalklub se kaalvoet-en-sokkies-rolbaldag die koms van Lente gevier.
Die rolbaldag is Vrydag, 21 September deur die rolbalklub en die Demokratiese Alliansie (DA) vir die munisipale wyk, wyk 4 aangebied. DA-leiers soos Jaco Londt (lid van die parlement en die Wes-Kaap se Oosstreek DA-leier), Tertuis Simmers (lid van die provinsiale parlement en Oudtshoorn en omgewing se DA-leier), asook Lodewyk Coetzee (lid van die DA federale raad) het aan die sportdag deelgeneem.
Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal het in die openingstoespraak gesê: "Sport is nie net 'n brugbouer nie. Dit leer jou om sukses in die lewe te behaal."
Londt het aan elke deelnemer 'n sertifikaat oorhandig, waarin hy sê: "Hiermee bevestig DA wyk 4 en Grootbrakrivier-rolbalklub dat jy nie soms van veel woorde is nie, maar vandag het ons jou gehoor.
Dat jy vandag met almal jou vrolike uitbudigheid kon deel. Dis Lente. Dat jy jouself begewe het op die rolbalbaan, ongeag wen of verloor maar in die gees om nuwe vriendskappe te bou.
Dat jy jouself vandag omring het met wysheid, want emosie kan jou duur kos. Na vandag kan jy jouself as 'n kranige balroller ag."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'