MOSSELBAAI NUUS - Een van die beroepe waarin 'n mens kan spog met jou lyf, is om 'n professionele kragman of -vrou te wees.
Hierdie toegewyde sportmanne bringe hul ure in gimnasiums deur om elke spier aan die lyf tot die uiterste in te span.
'n Plaaslike vrou, Rochelle Smit, ma van twee seuns se jarelange toewyding aan liggaamsbou het 'n hoogtepunt bereik toe sy onlangs professionele status ontvang het.
Dit is toegeken deur die International Bodybuilding Federation (IBF). Dit beteken dat Rochelle dié sportsoort nou as 'n beroep kan beoefen.
Rochelle het 'n lang pad gestap met fiksheid op die verhoog. Vyftien maande gelede het Vivian Goosen haar persoonlike afrigter geword. Vivian is self 'n professionele atleet met vele SA, asook internasionale titels.
Rochelle is in 2018 gekroon as die IBFF Pro Diva Fitness-kampioen bo 40. Met haar wen het sy gekwalifiseer om internasionaal aan die 2018 IBFF-wêreldkampioenskappe in Slovenië deel te neem. Sy het daar die wêreldtitel ingepalm. Sy is daarna genooi na die 2018 IBFF-kampioenskappe in Gauteng. Sy word daar gekroon as SA IBFF-kampioen bo 40. Tot haar verbasing is sy ook gekroon as die algehele SA 2018-vrouekampioen.
Hierdie titels wat sy verower het, het die aandag van die IBFF-president, Arnie Williams van die VSA getrek. Hierop het hy haar uitgenooi om op 7 September by die wêreldkampioenskappe, wat vir die eerste keer in SA gehou is, in Gauteng vir haar professionele kaart mee te ding, wat sy toe ontvang het. Ongelukkig is daar nie baie kompetisies vir dié professionele atlete in Suid-Afrika nie. Rochelle sal meer in die buiteland moet deelneem en afhanklik wees van borge wat haar kan ondersteun.
"Op 47-jarige ouderdom, het ek my professionele status ontvang. Dit bewys weer eens bewys dat ouderdom net 'n getal is. My geloof is nommer een op my lys. Ek is ongelooflik lief vir Jesus Christus en my leuse is Fil 4:13: 'Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee!'," sê Rochelle. Rochelle bedank Jesus Christus vir Sy genade onbeskryflik groot. Sy bedank ook Mark en Vivian Goosen, haar afrigters, haar ouers Grace en Johan, haar twee seuns Ronwin (24) en Rowan (12) en haar eggenoot Ronnie Smit, vir al hul bystand en geduld.
Rochelle Smit
Rochelle Smit het nou professionele status ontvang in liggaamsbou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'