SUID-KAAP SPORT NUUS - Die Protea-jaggeweerskietspan met agt lede van Eden-jaggeweerskiet wat deel van die span uitmaak, het uitstekend gevaar in 'n .223-skiettoets teen Namibië deur drie van die vier kategorieë te buit.
Die Proteas se span het die junior-, vroue- en presidentsafdelings verower met net die mans A-span wat nie die pyp kon rook nie.
Vir die Proteas was die terrein en omstandighede redelik vreemd. Hulle moes vinnig aanpas om kompeterend te wees oor die twee dae wat die skiettoets geduur het.
Eden-jaggeweerskiet se skuts, Christo Delport, Leras van Zyl, Jacques du Plooy, Junita van Zyl, Anita Butler, Marietha Moolman, Manus Moolman en Anlo Ferreira was verteenwoordigend in onderskeidelik die senior Proteaspan (een), presidentspan (twee), vroue Proteaspan (drie) en junior Proteaspan (twee).
Uitslae
Mans A-spanne: Namibië 8 804.9 en SA 8 611.2.
Presidentspanne: SA 8 610.2 en Namibië 7 507.8.
Vrouespanne: SA 6 934.1 en Namibië 5 262.4.
Juniors: SA 7 922.6 en Namibië Ontwikkeling 4 973.5.
Die skiettoets het op 10 April by die Heja Lodge buitekant Windhoek plaasgevind en is met 'n inhuldigingsfunksie afgeskop waartydens al die skuts wat die eerste keer hul land in nasionale skietkleure verteenwoordig het, gehuldig is. Met die alombekende gasvryheid van die Namibiërs het die vure hoog gebrand en is die Suid-Afrikaners hartlik welkom geheet.
Die reeks is afgesluit met 'n formele funksie waar die medaljes toegeken is. Die volgende byeenkoms vir die Eden-skuts is die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat einde Mei in die Oos-Kaap plaasvind.
Eden-jaggeweerskiet se skuts wat deel van die Protea-jaggeweerskietspan uitgemaak het is van links, Christo Delport, Junita van Zyl, Leras van Zyl, Anita Butler, Manus Moolman, Marietha Moolman, Anlo Ferreira en Jacques du Plooy.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'