MOSSELBAAI NUUS - Die Eden-resiesduiffederasie en Outeniqua-posduifklub se Jacques Zeelie is die jongste Protea-lid wat sy kleure tydens 'n spesiale funksie in George ontvang het.
Die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduiforganisasie (SANPO) het vir die eerste keer die jaarlikse prestige gala-prysuitdelingsfunksie en algemene jaarvergadering in George gehou waartydens talle pryse en toekennings oorhandig is. Lede van SANPO het vanuit alle uithoeke van die land gereis om die funksie by te woon.
Die middag voor die funksie is George le Roux as nuwe nasionale president verkies met Shane Gerber as visepresident. Le Roux neem die leisels by Fareed Hendricks, wat vir etlike jare in die stoel was, oor.
Eden se twee junior lede, Noah Prinsloo en Marzaan van der Linde van die Mosselbaai Posduifklub het ook spesiale toekennings van die president ontvang.
SANPO-merietekleure
Die Eden-lede wat reeds hul SANPO-merietekleure verwerf het, is Christo Senekal, JC Barnard, Hugo Jordaan, Flip du Toit, Jacques Zeelie, Nick Bosch, Ronnie Stevens, Jan Gericke, DH Heunis, Maureen Faul, Jan Rousseau, Danie Barnard, Rob Edwards, Neill Calitz, Suzette Herrer, Faunty Gillmer, Chris Pietersen, John Duthie, Fanie Jordaan, Harm Venter en Johan Pretorius.
SANPO bestaan uit 63 organisasies en Eden is die vyfde grootste duiwe-organisasie in SA. Eden-federasie bestaan uit 15 klubs vanaf Plettenbergbaai tot Albertinia, Oudtshoorn, Uniondale en Kannaland.
Die wedvlugprogram begin op 6 Junie met 'n wedvlug van Drie Susters (240km). Daar is elke naweek wedvlugte en die laaste wedvlug vind plaas op 3 Oktober vanaf Klerksdorp (870km).
Nog 'n hupstoot vir die plaaslike posduifsport is dat die SANPO nasionale duiweskou ook in George gaan plaasvind. Die reuseskou sal op 1 en 2 Mei by die George-skouterrein gehou word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'