MOSSELBAAI NUUS - Die gewilde Charles Uys ope-jukskeidag, wat jaarliks op 'n rotasiebasis in George, Hartenbos en Riversdal gespeel word, is Saterdag, 23 Februarie op die Hartenbos-bane gespeel.
Die dag se spel is deur die Mosselbaaiklub georganiseer. Wyle Charles Uys was 'n kranige jukskeispeler en bekende boer uit die Barrydale-omgewing.
Hy het hom op verskeie terreine onderskei. Afgesien van sy sukses behaal met die boer met appels, pere en druiwe was hy iemand wat sy gemeenskap gedien het. Hy was onder andere voorsitter van die Barrydale-wynkelder se direksie, asook in dieselfde hoedanigheid op die boerevereniging en ook op die skoolkomitee.
Benewens voormelde was hy verskeie jare president van die SA Jukskeivereniging sowel as president van die SWD Jukskeivereniging (nou die Eden Jukskeifederasie).
Vanjaar was die belangstelling groot en het 12 spanne, vier in die B-afdeling en agt in die C-afdeling ingeskryf.
Daar het dus 48 spelers kragte gemeet in die onderskeie afdelings. Verblydend was die inskrywing van die Laerskool Ruiterbos onder mentorskap van Bossie Boshoff wat reeds geruime tyd besig is met afrigtingswerk van belangstellende leerders aan genoemde skool.
Hierdie span het ook die C-afdeling gewen en groot was hul vreugde. Die skoolhoof op Ruiterbos, mevrou Gous, toon ook 'n lewende belangstelling in die ontwikkeling van die leerders op jukskeigebied en bied haar volle samewerking. Daar is beslis sigbare vordering onder die ywerige aspirante. Hulle word sterkte en voorspoed toegewens. Getroue volharde oefening bly die sleutel tot sukses op elke lewensterrein. Dit geld veral ten opsigte van jukskei.
Die weer was gunstig, hoewel snikhete warm. Die jukskeispelers was in 'n opgewekte stemming ondanks die "oe" en "aa" wanneer die skeie nie op die regte plekke geval het nie. Dikwels was die jammerkrete gehoor sodra daar gebars (gekraak) is, dit wil sê die skoftelling van 23 punte verby gesteek is. Dan moes daar weer vanaf nul begin word.
Die gesoute spelers het egter hul kant gebring met die verwagte goeie uitslae.
Finale puntestand (punte in hakies):
B-afdeling: (die enkele A-span is ook in die B-afdeling ingedeel).
Hartenbos B (37½); Riversdal B2 (36); George B (29); Riversdal B1 (17½). Daar was geen wegholoorwinnings nie.
C-afdeling: Ruiterbos C (49); Stilbaai C1 (48); Hartenbos C (44½); Riversdal C (37); Mosselbaai C (32½); George C2 (32); Stilbaai C2 (30); George C1 (26½).
Die vierde en laaste interdistriktetoernooi word môre, Saterdag, 2 Maart op Riversdal gespeel. Deelnemende Distrikte is Eden (vroeër SWD), Kaapse Wynlande (KWL - vroeër Boland), Overberg (Sandbaai en Hermanus omgewing) en die WP.
Die volgende spanne is verlede Saterdag deur die Eden-keurkomitee saamgestel:
A: E Engelbrecht, D Barnard, B Boshoff, S Stopforth.
B1: J van Dyk, M Laubscher, J Coetzee, H Gerber.
B2: J Hanekom, J Bruwer, A la Grange, E Prinsloo
C1: P von Rönge, K Swart, M Pienaar, nog een.
C2: A Barnard, J Conradie, S van der Sandt, E Burger.
C3: L van der Sandt, B van Schalkwyk, C Viljoen, J van Tonder.
D1: M Hansen, S van Tonder, M Hanekom, S Grimbeek.
D2: A van Staden, P Morell, T van Schalkwyk, nog een.
Skeie moet in Eden-kleure geverf wees. Die kop 75mm brilliant groen en res van skei wit. Die opening is om 07:30 en aanvang om 08:00.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'