MOSSELBAAI NUUS - Vir die derde agtereenvolgende jaar het jukskeispanne van die ooste, weste en Hartenbos op Vrydag, 20 April bymekaargekom om teen mekaar mee te ding.
Vanjaar was dit Riversdal-jukskeiklub se beurt om dié toernooi aan te bied. Hartenbos sal in Augustus die volgende toernooi aanbied. Altesaam 20 spanne het deelgeneem met 12 van die ooste, ses van die weste en twee van Hartenbos. Spanne van die ooste is Boggombaai, Gouritz, Dannabaai en Groot Brak. Die weste se spanne bestaan uit Riversdal, Jongensfontein en Stilbaai.
Febe Streicher, organiseerder, sê: "Die toernooi word tydens 'n hoogtepunt van die seisoen aangebied sodat daar bepaal kan word wie die wenners van die ooste en weste is. 'n Hele paar spelers wat vandag hier is, is in hul tagtiger jare." Barry van Schalkwyk, voorsitter van Riversdal-jukskeiklub het elke speler wat deelgeneem het bedank en Riversdal Toyota is vir hul skenking van dagboekies bedank. Hy herinner almal ook daaraan dat oud en jonk aan dié sportsoort kan deelneem.
Hartenbos A wen die A-afdeling met 42 punte, weste A is tweede met 32 punte en ooste A2 derde met 31 punte. Die B-afdeling is ook deur Hartenbos gewen met 40 punte.
Ooste B1 eindig tweede met 30,5 punte en ooste B3 derde met 27,5 punte. Weste C2 wen die C-afdeling met 40 punte, weste C4 is tweede met 37,5 punte en ooste C3 derde met 33 punte.
Wilna du Plessis van Groot Brak in aksie.
Koot Swart (85) van Hartenbos laat hom nie onderkry nie. Hy neem steeds kompeterend deel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'