Video
MOSSELBAAI SPORT NUUS EN VIDEO - Soos talle ander sportliefhebbers wat tans ingeperk is, is Lian de Villiers (28) ook ontneem van dít wat hy graag doen - skaatsplank- en branderplankry. Maar hy het die grendeltydperk met 'n plan aangepak.
Lian, wat reeds die afgelope 14 jaar skaatsplankry, het nét voor die grendeltydperk begin het, vir hom toerusting uit Kaapstaad aangery om seker te maak dat hy darem nog iets van sy gunstelingsport tuis kan geniet.
"Ek was net voor die lockdown in Kaapstad en het besluit om 'n ramp terug huis toe te bring." Lian werk vir 'n maatskappy wat spesialiseer in handelsmerkontwikkeling, bemarking en die ontwerp van webtuistes, dus geniet hy die vryheid van werk waar hy wil.
"Ek het die ramp in my ou Mercedes gelaai met die pype wat by die vensters uitsteek en uit die Kaap huis toe gery." Lian is van voorneme om die toerusting selfs ná die grendeltydperk in Mosselbaai te gebruik juis, meen hy, omdat die dorp geen behoorlike voorsieining maak vir skaatsplankryers nie. Hy het al voorheen plekke ingerig waar veral jonger skaatsplankryers aan dié sport kon deelneem. "Jy moet sommer daar skryf dat Mosselbaai my 'n plek moet gee waar ek tydelike ramps kan opsit," skerts hy tydens 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser. Hy meen dat die sport in Kaapstad baie gewild is en dat daar ruim vir die beoefening daarvan voorsiening gemaak word.
Wat die grendeltydperk betref, meen hy dat dit maar 'n groot opoffering vir hom is om nie enige van sy twee lieflingsportsoorte te kan beoefen nie.
"Ek raak nou lekker vet, want ek kry nie genoeg oefening nie. Ek love dit om te eet." Maar, voeg hy vinnig by, skaatsplankry is vir hom ook 'n manier om sy kop skoon te kry. "Dis my meditasie en 'n manier om van stres ontslae te raak."
Kyk 'n verskafde video hieronder:
Hy praat namens almal wat buitelugsport beoefen as hy sê dat dit maar vir niemand 'n maklike tyd is nie. "Dit is moeilik vir ons wat hou daarvan om buite dinge te doen. Maar ek moedig almal aan, doen iets by die huis. Maak jou surfboard 'n slag skoon of maak dit reg. Kyk 'n paar videos om jou vaardigheid in jou sport te verbeter. Wees positief. Ons gaan almal fine wees en weer eendag buite kom."
Hy het ook ander skaatsplankryers uitgedaag om 'n video van hulle vaardighede tydens inperking aanlyn te laai. "Komaan, wys ons wat julle kan doen."
Lian de Villiers gebruik tuisgemaakte toerusting om steeds by die huis tydens inperking sy sport te geniet.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'