SUID-KAAP NUUS - Hoër Landbouskool Oakdale het vanjaar skoonskip gemaak tydens die onlangse SA toutrekkampioenskap op Worcester deur in elke afdeling as wenners bekroon te word.
Vanjaar se toutrekkampioenskap is gekenmerk deur 'n rekordgetal inskrywings, waarvan die Hoër Landbouskool Oakdale die meeste spanne ingeskryf het.
Die Oakdale-toutrekspanne het alle goue en soms silwermedaljes gewen wat daar in die hoërskole afdeling vir seuns te wen was.
Dié skool se B-, C- en D-spanne het selfs verskeie A- en B-spanne van ander deelnemende skole met pragvertonings geklop.
Oakdale se toutrekafrigters verdien voorwaar 'n klop op die skouer as 'n mens in ag neem dat hulle reeds vanaf September 2019 vir dié toernooi voorberei het.
Die hoogtepunt van die kompetisie was die oorwinning in die 560kg-kompetisie. Hierdie oorwinning in die 560kg-afdeling beteken ook dat Oakdale weer die land as die Proteaspan gedurende September by die wêreldkampioenskap in Spanje gaan verteenwoordig (indien dié toernooi nie afgestel word as gevolg van die koronavirus-pandemie nie).
Uitslae
- 400kg A-span – goud
- 400kg B-span – silwer
- 440kg A-span – goud
- 480kg A-span – goud
- 480kg B-span – silwer
- 480kg Plaatspan – goud
- 520kg A-span – goud
- 560kg A-span – goud
- 560kg B-span – silver
- 600kg A-span – goud
- 600kg B-span – brons
Die 560kg A-span van Oakdale het ook 'n goue medalje verwerf.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'