MOSSELBAAI NUUS - Bemagtiging van vrouesport in Mosselbaai het 'n hupstoot gekry met die opening van drie splinternuwe netbalbane in Hartenbos.
Die bane is in hul eerste fase gereed vir spel, met bykomende kleedkamers en ander geriewe wat volg.
Die Wes-Kaapse LUR van sport en kultuur, minister Anroux Marais het Saterdag, 2 Februarie, die bane amptelik geopen. Dit sal deur netbalspelers van regoor die groter Mosselbaai gebruik word.
In haar openingstoespraak het Marais aangekondig dat Kaapstad 'n bod ingesit het om gasheer vir die Wêreldbekernetbalspele 2023 te speel.
"Indien die eer ons toekom sal hierdie bane heel waarskynlik deel uitmaak van die spele." Sy het die Mosselbaai-munisipaliteit bedank vir goeie bestuur wat die bou van die bane moontlik gemaak het.
Marais het ook gesê die bane is om sport in die platteland te bemagtig.
Mosselbaai se uitvoerende onderburgemeester, raadslid Dirk Kotzé, het minister Marais geloof vir haar harde werk. "Dankie vir wat u vir sport en kultuur doen."
Kotzé het sy hoop uitgespreek dat Mosselbaai nie net in die Suid-Kaap nie, maar 'n netbalmekka in Afrika sal word. "Die munisipaliteit is baie kompeterend en in staat daartoe om netbalspelers van regoor die wêreld te lok."
Desmond Speelman, voorsitter van die Eden-sportraad het die opening van die bane as 'n groot geleentheid beskryf. Hy het Eden se sportfederasies en -klubs aangemoedig om verantwoordelikheid vir hul geriewe te neem.
Lees 'n verwante artikel hier: Netbalbane gereed vir wêreldspele
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'