Gallery Video
NETBALNUUS EN VIDEO - Hartenbos Netbal het verlede week gasheer gespeel met die vertoning van die Wêreldbeker (WB) trofee, wat tans op 'n landwye toer deur Suid-Afrika geneem word.
Suid-Afrika is gasheer vir die 2023 WB-toernooi wat van 29 Julie tot 6 Augustus in die Kaapse Internasionale Konferensie Sentrum (KIKS) beslis word.
Op Woensdag, 5 Julie, het die geselskap by die netbalbane op Hartenbos aangekom. Die groep is vergesel deur die minister van die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport (DKES), me Anroux Marais, me Nicolette Pietersen, adjunk direkteur DKES en verskeie hoogwaardigheidsbekleërs, wat ingesluit het me Cecilia Molokwane, president van Netbal Suid-Afrika (NSA).
Plaaslik was onder andere waarnemende burgemeester, raadsheer Cliffie Bayman, direkteur Elize Nel, René Booysen van Eden Netbal, Mosselbaai Sportraad se voorsitter, Theresa Nortje en Rina van der Westhuizen, voorsitter van Hartenbos Netbal ook teenwoordig.
Raadslede Leon van Dyk, Dononvan Claassen en Niklaas Booisen en verskeie ander munisipale amptenare was ook by die geleentheid.
Die Mosselbaai Sportraad met die ondersteuning van die Mosselbaai-munisipaliteit het op die dag ook 'n netbal kliniek gereël waaraan 15 spanne deelgeneem het. Dit is gereël vir spelers tussen die ouderdomme o.11 tot o.13 en o.14 tot o.16.
Spanne van Groot-Brakrivier Primêr en Sekondêr, Asla Jeug Ontwikkeling, Omgee Rehab Jeug, Hoërskool Punt, Ikaya Jeug Ontwikkeling, Herbertsdale, Young Dreams Jeug Ontwikkeling, Diaz Primêr, Laerskool Hartenbos, Milkwood Primêr en drie spanne van George, was almal deel van dié inisiatief.
"Dit was 'n suksesvolle dag. Die jeug van ons omgewing het afrigting op 'n prettige manier ondervind," het Van der Westhuizen gesê.
Sunette Marais, 'n vlak 3 SA-afrigter en geakkriditeerde afrigter-ontwikkelaar, Danie de Villiers en Coenie Kruger, biokinetikuste van Hartenbos het die formele opleiding met die spelers en die afrigters behartig. Annemie Koen, 'n Netbal SA-skeidsregter, het nuwe en ou reëls van netbal bespreek. Spelers en vriende van die Hartenbos Netbal het die skeidsregters bygestaan met spel op die verskillende bane.
Verskeie wedstryde is deur die dag gespeel in afwagting vir die trofee om te arriveer.
Minister Marais het gedurende haar toespraak 'n boodskap aan die jong spelers gegee om in hulle self te glo, om nooit op te gee nie en om te wees wie ookal jy wil wees.
Na al die toesprake deur verskeie van die hooggeplaasdes het Molokwane met wit handskoene die WB-trofee uit 'n houer gelig en is dit in 'n glaskas tentoongestel as inspirasie vir die jong spelers, wat die dag teenoowrdig was.
Van der Westhuizen het in haar bedankings die Mosselbaai Sportraad bedank vir hulle harde werk en ook die spelers, borge en rolspelers bedank vir hulle bydraes. "Dit was 'n pragtige dag met 'n skouspelagtige vertoning van 140 duiwe van die Mossebaai Posduifklub waarmee die dag afgesluit is. Voorwaar 'n dag om te onthou vir al die netbal entoesiaste," het Van der Westhuizen gesê.
Die trofee is daarna na Riversdal, Swellendam, Ashton, Paarl, Malmesbury en Vredenburg, voor dit op Vrydag, 7 Julie, deur Marais aan die Stad Kaapstad oorhandig is.
Die netbal Wêreldbeker Trofee is ‘n inspirasie vir jong spelers.
Wes-Kaap se minister van kultuursake en sport, me Anroux Marais. Foto: Jannie du Plessis
Wes-Kaap minister van kultuursake en sport, me Anroux Marais arriveer in Hartenbos. Foto: Jannie du Plessis
VIDEO - Netbal wêreldbeker toer deur Mosselbaai:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’