TUINROETE SPORTNUUS - Een van die oudste en gewildste padwedlope in die Suid-Kaap, die jaarlikse Top Gear-nagwedloop, word vandag, Vrydagaand 24 Januarie, vir die 15de keer op George aangebied.
Die Rainbow-atletiekklub is die gasheer.
Albei die 10km- en 5km-wedlope begin om 18:00 by Top Gear Sport (h/v Hiberniastraat) en eindig ook daar. Voorafinskrywings het reeds gesluit.
Atlete wat aan die 10km deelneem moet minstens 14 jaar oud wees en R55 opdok. Deelname aan die 5km kos R30 en atlete moet minstens nege jaar oud wees. Laatinskrywings kan nog vandag van 15:00 tot 17:55 by Top Gear gedoen word teen 'n ekstra R20 per atleet.
Die afsnypunt vir die 10km is 1 uur 30 minute. Afstandmerkers sal na elke kilometer vertoon word.
Atlete word versoek om aan die regterkant van die pad te hardloop tensy die beamptes en verkeerspersoneel dit anders versoek.
Atlete moet in hul klubkleure deelneem en ook die ASA 2019-lisensienommers op die voor- en agterkant van hul frokkies aanbring. Ander atlete moet 'n tydelike nommer op die voorkant van hul frokkies vertoon.
Atlete wat die twee padwedlope binne die voorgeskrewe tyd voltooi, sal medaljes ontvang. Daar is ook gelyke prysgeld vir mans en vroue wat in die top drie plekke klaarmaak. Daar sal ook 'n gelukstrekking wees.
Stappers is ook welkom om deel te neem.
Die prysuitdeling is om 19:45 by Top Gear.
Toiletgeriewe en eerstehulp is beskikbaar by Top Gear.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'