Gallery
MOSSELBAAI SPORTNUUS - Hoewel Suid-Afrika tans in vlak 1 van die nasionale inperking is waartydens al hoe meer sportkodes vir deelname heropen, sal Mosselbaaise sportlui volmondig erken dat hulle die jaarlikse Mosselbaai Sport- en Rekreasiefees mis. Dié geleentheid vind jaarliks aan die einde van September tot begin Oktober plaas.
Pluimbal is gewoonlik ook op hierdie sportspyskaart. Dit troos darem dat daar verlede naweek 'n interessante nuwe wending in dié sportsoort plaaslik bekend gestel is.
Die Eden Pluimbalfederasie het op Saterdag, 26 September die voorreg gehad om die bekendstelling van buitelugpluimbal waar te neem.
Die bekendstelling is op Mosselbaai gehou en pluimbalklubs van onder meer Mosselbaai, Stilbaai, George en Oudtshoorn was teenwoordig. Lede van die Mosselbaai Sportraad het ook die bekendstelling bygewoon.
Buitelugpluimbal (air badminton) is 'n sport waaraan oud en jonk kan deelneem. Dit is ook nie beperk tot 'n spesifieke sportterrein nie en daarom juis aanloklik omdat dit op plaaslike strande gespeel kan word.
Fotogalery: 'n Nuwe era vir pluimbal
Raadslid Niklaas Booisen het die verrigtinge amptelik geopen en later saam met die sekretaris van die Mosselbaai Sportraad, Sjanneil Busch, sy vernuf in dié spel op die proef gestel het.
Die Eden Pluimbalfederasie beoog om verdere soortgelyke bekendstellings in ander omliggende dorpe te hou.
Vir meer inligting, kontak Hanlie Alberts (082 679 5259).
Francois Wessels (WP pluimbalafrigter) maak Shjanneil Bush (sekretaresse van die Mosselbaai Sportraad) touwys.
Sjanneil Busch wys haar slag.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'