MOSSELBAAI NUUS - Tydens die nasionale boogskietkampioenskap in Pretoria in Mei, is 'n 11-jarige meisie van Mosselbaai bekroon as die jongste meisie wat SA-kampioenstatus verwerf het in haar kategorie naamlik Cub Female Bow Unlimited.
Die kampioenskap is vanaf 13-15 Mei aangebied waartydens Clarissa ook haar nasionale kleure in boogskiet verwerf het.
Clarissa Steenekamp is 'n graad 5-leerder aan Laerskool Hartenbos en het in Februarie 2021 onder leiding van Johann Boshoff, 'n boogskutter van Mosselbaai begin oefen.
Haar pa, Jaco vertel dat dié gogga haar reeds voor hulle op Mosselbaai hervestig het, gebyt het.
"Sy het by haar vorige skool in Vanderbijlpark verby die stoor gestap en daar gesien dat hulle boogskiet oefen."
Ter voorbereiding van die kompetisie, het sy vier keer per week geoefen en 60 pyle per oefening geskiet.
"Die geheim om 'n kampioen te word is harde oefening, dissipline en om gefokus te bly," verduidelik Clarissa.
Op pad na die nasionale kampioenskap.
Volgens Jaco het Clarissa maklik haar voete in boogskiet gevind. Sy jag glo al sedert vyfjarige ouderdom saam met haar pa.
Boogskiet is boonop toenemend gewild onder die vrouegeslag en mens sien, aldus Jaco, geensins net meer seuns wat kompeterend deelneem nie.
Deelname kom glo egter teen 'n prys.
"Dis nogal 'n duur sport. Dit is kompetisiegelde, snare, pyle en ander toebehore wat jy moet hê. Dan is daar nog reiskoste tydens kompetisies ook."
Clarissa sê sy is trots op haar prestasie.
"Ek gaan nog harder werk om my titel volgende jaar te behou."
En as haar pa haar toelaat, gaan sy beslis in die toekoms ander sportsoorte wat fyn korrel behels aanpak.
Clarissa Steenekamp in aksie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'