MOSSELBAAI NUUS - As dit van die 34-jarige Jean-Pierre (kortweg JP) Brits afhang, sal Mosselbaai binnekort die voorste fasiliteit as 'n muurbal-entiteit op die kontinent van Afrika kan bied.
Brits erken dit sal harde werk verg. Sy visie is groot. Mosselbaai staan aan die spilpunt daarvan. En dis nie dat Mosselbaai vreemd aan hom is nie. JP het as kind saam met sy ouers gereeld in dié geweste besoek afgelê.
As kind was vakansies op Mosselbaai vir hom idillies.
'n Jaar gelede - ná hy as beroepspeler die raket gebêre het - is die eerste gedeelte van sy droom bewaarheid.
"Toe kon ek en my vrou hierheen kom. Iets wat ek altyd wou doen. Ek is nou reeds 'n jaar hier. Die geweste waar ek wil wees en waar ek my werk wil doen," het hy gesê.
En JP se werk bestaan nie net uit droom nie. Hy doen!
Volgende mikpunt
Ná hy einde verlede en begin van dié jaar reeds betrokke was met twee groot toernooie in die Eden-distrik, is sy volgende mikpunt die afhandeling van die Kontinentale Kampioenskappe, wat van 7 tot 10 April op Mosselbaai sal plaasvind.
"Daar is reeds 'n horde spelers wat ingeskryf is. Die wenner van dié toernooi sal direk kwalifiseer vir die Wêreldbyeenkoms, waar $1 miljoen (ongeveer R18.56 miljoen) op die spel is," het hy gesê.
Van die volgende Afrika-lande, wat reeds ingeskryf het, tel Egipte, Namibië en Nigerië.
Dat Brits weet waarvan hy praat, blyk duidelik uit die volgende gedeelte van die gesprek.
Pakistan was tevore die toonaangewende land wat muurbal betref. Sedert die legendariese Geoff Hunt van Australië die sport vaarwel geroep het, het Egipte egter as die wêreld se voorste land die voortou geneem.
"Pakistan was altyd die land wie se spelers jy moes klop. Nie meer nie. Dis nou Egipte," het Brits gesê. Egipte se spelers sal ook deel van die pakkie wees wanneer die Kontinentale byeenkoms op Mosselbaai plaasvind.
"Vir ons plaaslike twee voorste spelers, Dewald van Niekerk (mans) en Hayley Ward (vroue), is daar geweldig baie op die spel.
"Dewald en Hayley bevind hulself in die hoë tagtigs op die wêreldranglys, maar toernooie soos die Kontinentale Kampioenskappe kan hulle posisies op die ranglys baie verbeter.
"En sodra jy onder top 50 inbeweeg, is enigiets moontlik. Dis die geleenthede wat ek graag aan ons voorste spelers wil skep," het Brits, wat ook met afrigting betrokke is, gesê.
Brits se verdere visie sluit natuurlik ook 'n sentrum in waar nie net muurbal nie, maar ook ander sportsoorte akkommodeer kan word.
"Stel jouself voor waar die 'glasmure' afgehaal kan word en ander sporte ook aangebied kan word in 'n binnenshuise sentrum. 'n Tipe van 'n sportsentrum. Sal dit nie wonderlik wees nie?" het hy gevra.
Brits se visie is groot, maar hoegenaamd nie onmoontlik nie. En met sy passie is daar niks mee verkeerd nie. Mosselbaai kan trots wees daarop dat iemand soos Brits dié passie in dié omgewing wil uitleef en dit sy werk sal maak om daarin te slaag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’