MOSSELBAAI SPORTNUUS - Die gewilde Eden Straatmylreeks skop vanjaar op 17 Desember af met die Klein Karoo Straatmyl wat in Baron van Reedestraat, Oudtshoorn gehardloop word.
Daarna skuif die aksie na die De Jager Atletiekstadion in Oudtshoorn vir die baanmyl-items op 19 Desember en dit word afgesluit met Hartenbos se straatmyl op 21 Desember.
Meer as R50 000 se prysgeld is op die spel.
In 2021 was die standaard van wenners uitstaande, met Ryan Mphahlele en Carina Viljoen wat in albei ope-afdelings roeterekords opgestel het.
Mhphahlele het vanjaar pragtig voortgebou op sy prestasies en uiteindelik tweede in die 1 500m by die 2022 Afrika Kampioenskappe geeïndig.
Hy het aangedui dat hy in die komende seisoen na Johan Cronjé se SA mylrekord van 3:50,70 mik.
Viljoen wat in Kalifornië in die VSA gebaseer is, het vanjaar haar persoonlike beste tyd in die 1 500m na 4:08.36 verbeter.
Sy sal deur die belowende junior Danielle Verster, nog 'n Suid-Afrikaanse atleet wat ook in die VSA gebaseer is, uitgedaag word.
Die status van straatmyle binne wêreld-atletiek is verhoog deurdat World Athletics dit bygevoeg het tot die nuwe wêreld padkampioenskappe program wat vanjaar vir die eerste keer op 1 Oktober in Latvia aan-gebied gaan word. Die Eden Straatmylreeks bied nou aan atlete die geleentheid om die Atletiek SA keurders van hulle kennis te laat neem.
Atlete kan in vier ouderdoms-kategorieë in die Eden Straatmylreeks meeding - Jong Talent, Junior, Ope en 40+. Daar is ook 'n prys vir die beste ASWD mans- en vroue-atleet. Vyf pare skoene vir die beste prestasies van atlete afkomstig uit die Wes-Kaapse platteland is ook op die spel. 'n Potjiekos-ete wat 'n kenmekaar en 'n motiveringspraatjie insluit, word oudergewoonte by Kleinplaas op 17 Desember aangebied.
Meer inligting is op www.edenmiles.co.za sowel as op Facebook beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'