MOSSELBAAI NUUS - Een van die land én die wêreld se bestes in bergplankry (of mountainboarding soos dit algemeen bekendstaan) is ’n 38-jarige Mosselbaaier.
Dié sport is soortgelyk aan sy sneeu-eweknie, maar maak gebruik van ’n spesiaal ontwerpte skaatsplank waarmee jy teen ’n steilte afry.
Mosselbaai se eie wêreldkampioenskap-naaswenner, Yani Lourens, verduidelik haar sport só:
“Kyk, mountainboarding is vir my die naaste ding aan snowboard en surfing, net sonder die sneeu of die water! Jy staan op ’n stewige plank met groot lugbande, en jy ry oor als - bergpaaie, grasvelde, BMX-bane, en selfs grondroetes. Dit gaan oor daai vloei-gevoel, die spoed, en hoe jy met die natuur saamwerk. Of jy nou spoed soek, net wil verken, of truuks wil uitvoer, dis als ’n avontuur.”
Lourens het gedurende Junie in Sabie, Mpumalanga aan die Wêreldkampioenskappe deelgeneem. Sy was algeheel tweede onder die vroue en het ook ’n tweede plek in die freestyle-afdeling behaal. Suid-Afrikaners het hier teen deelnemers van die Verenigde Koninkryk, Pole, Nederland, Roemenië, België, Portugal, Brasilië, Australië en die Verenigde State van Amerika meegeding.
Waar het mountainboarding vir haar begin?
Lourens het in 2013 vir die eerste keer met bergplankry kennis gemaak. “Ek’t eendag by Jozi X Adventure Centre in Johannesburg daai weird board raakgesien en was dadelik mal daaroor, al het ek geen idee gehad hoe dit werk nie. Die man het vir my ’n nommer gegee van ouens in Hazyview, maar ek kon hulle drie maande lank nie kry nie.” Sy self het in daardie stadium in die Laeveld gewoon.
“Later het ek by ’n backpackers in die area gebly en vra die eienaar of hy van mountainboarders weet … en hy glimlag groot en sê: ‘Dis ek!’ Sy baan was in sy agterplaas! Ek was toe die eerste meisie in Suid-Afrika wat begin mountainboard het. Hy’t gesê ek kan verniet by hom bly solank ek kom oefen en ry wanneer ek tyd af het - dis hoe dit alles begin het.”
Die droom
En nou, meer as ’n dekade later, het haar droom om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem, waar geword. “Van daai eerste dag in 2013 af het ek vir myself gesê: ‘Eendag gaan ek Worlds toe.’”
Sy sê dis maar verskriklik duur vir hulle hier in die Suidelike Halfrond om tot in Europa of Amerika te kom, maar ’n paar instansies het gelukkig saamgespan om die sport meer globaal te maak.
“Ons eie nasionale kompetisie, Dirty Dayz, word elke jaar in Sabie gehou. Ons span hier in Suid-Afrika is die 136 Team. Om by Worlds meer as 40 internasionale deelnemers te ontmoet was ’n voorreg. Almal was so nederig en vriendelik. Ná daardie week is ons almal net een groot familie. Ons is almal eenders, ons praat net in verskillende aksente!”
Enige beserings?
’n Sport soos dié is beslis nie sonder sy risiko’s nie, maar Lourens kan darem lag oor die ‘ongelukke’ wat sy tot dusver gehad het. “Ek’t al teen 50 km/h geval, maar gelukkig nog niks gebreek nie! Die trick is om weer op te klim, maar ook om te weet wanneer om te gaan sit en rus voor jy weer gaan.
“Die snaaksste was toe my en ’n vriendin se wiele aan mekaar gehaak het, en ons nie kon loskom nie. Toe ons met ’n heuwel afgaan, haak haar wiele weer aan myne - en toe ry sy sommer bo-oor my! Dít was ’n gesig; ons het lekker saam gelag.”
’n Mountainboarding-gemeenskap vir Mosselbaai
Nou wil sy bitter graag ’n gemeenskap hier in Mosselbaai begin. “Ons het mos BMX-bane in die area wat perfek is, en as iemand van oop grasareas weet waar mens mag ry, laat my weet - dit sal help om die sport aan nog meer mense bekend te stel.
“Vir beginners: veiligheid eerste, kry vir jou ’n helm, en gewrig- , elmboog- en kniebeskermers. Begin op ’n klein grasheuweltjie om eers te leer draai en veral hoe om te stop. Moenie haastig wees nie en geniet die rit en die natuur - dis wat dit alles die moeite werd maak!”
Wie is Yani wanneer sy nie mountainboard nie?
Wanneer Lourens nie haar bergplankry op plase se agterpaaie oefen nie, doen sy vryskutgidswerk en is ook ’n basiese oorlewingsinstrukteur vir skole en mense wat buitelewe-vaardighede wil leer.
“Ek was ’n voltydse wildernisgids in die Krugerwildtuin en het vir luukse maatskappye soos Singita gewerk. Ek het gidse opgelei en gelei in Tanzanië, en ek het die laagland-gorillas in die Kongo gaan verken - ongelooflike ervarings! In 2020 het ek Mosselbaai toe getrek om nader aan familie te wees, en om die heel ander wêreld van fynbos, berge en Karoo te leer ken. Vir iemand wat 14 jaar lank in die Laeveld gewoon het, was dit ’n groot aanpassing.”
Maar sy sê sy is glad nie spyt oor die skuif nie. “Ek is ’n enorme explorer! Ek stap baie - die St. Blaize-roete is vir my soos my agterplaas en vol medisinale plante. Ek’s mal oor die Karoo en doen gereeld staproetes daar. Ek is ook ’n professionele spoorsnyer, en my liefde vir medisinale plante - veral in die fynbos - het die laaste drie jaar ontluik.”
Indien jy in hierdie sport belangstel, kontak Lourens by 082 452 5920.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’