MOSSELBAAI NUUS - Die Posboom-filatelievereniging vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar.
Filatelie, vir diegene wat nie met die term bekend is nie, is die versameling en bestudering van posseëls.
Lede van die vereniging het op Vrydag 16 Oktober by die Die Posboom op die Bartolomeu Dias-museum se terrein bymekaargekom om hierdie geleentheid te vier en die volgende dag ’n interklubbyeenkoms en uitstalling in die museum se Granary-saal aangebied.
Die klubvoorsitter, Gerrie Conradie, het gesê dit was nie net om mense van die klub se bedrywighede in kennis te stel nie, maar ook om die publiek bewus te maak van die groot rol wat Die Posboom en Mosselbaai in die posgeskiedenis van Suid-Afrika gespeel het.
Tydens die Vrydaggeleentheid het die klub ’n gedenkkoevert aan rdl. Anton Dellemijn oorhandig, wat hy sommer daar en dan by Die Posboom gepos het. Conradie het verduidelik dat enigiets wat daar gepos word, ’n baie spesiale en pragtige stempel van Die Posboom op kry. Oomblikke vóór Dellemijn sy brief gepos het, het hy opgemerk hoe lekker dit was om nog aan ’n seël te kon vat!
Anton Dellemijn ontvang sy gedenkkoevert by Gerrie Conradie en pos dit. Foto: Linzetta Calitz
Sëelklubs van George en Stilbaai het aan die interklubbyeenkoms kom deelneem. Charles Deacon van George was die algehele wenner van die Johnson-wisseltrofee vir die dag. Nico Els, Mosselbaai se sekretaris, se uitstalling het die tweede plek behaal, en hy het die Joh Groenewald-wisseltrofee gewen.
Charles Deacon en Gerrie Conradie. Foto: Verskaf
Muriel Hau-Yoon (wyle Joh Groenewald se lewensmaat) en Nico Els. Foto: Verskaf
“Ons het ’n fantastiese dag gehad, en dit was wonderlik om al die uitstaande filatelie-uitstallings te kon sien en bespreek,” sê Els.
“Heelwat mense van die publiek het in die middag kom kyk waaroor die dag gegaan het, en was verstom oor die geskiedenis wat elke uitstaller vertoon het. Die uitstallers het ’n paar minute gehad om hulle uitstalling te verduidelik en die passie waarmee dit gedoen is was aansteeklik.
Die Posboom-filatelievereniging se sekretaris, Nico Els, wys 'n bladsy uit sy seëlversameling. Foto: Linzetta Calitz
“Ongelooflike kundigheid oor verskillende velde van belangstelling was aan die orde van die dag, en die jare lange soek na daardie unieke item of twee wat ’n versameling voltooi was duidelik.”
Els sê die opveiling van filateliemateriaal was ook suksesvol, en verskeie kopers het waardevolle toevoegings tot hulle versamelings bekom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’