MOSSELBAAI SPORTNUUS - As voëls en spesifiek wedvlugduiwe deel van jou lewe is, is dit te wagte dat jy oor die jare kennis opbou wat jou een van die land se top sportmanne in die wedvlugduiwe-sport maak.
Danie Barnard, 'n inwoner van Danabaai vir die afgelope 12 jaar, is vanjaar vir die sesde keer die Mosselbaai Posduifklub se klubkampioen.
"Ek was van jongs af, toe ek my oë oopmaak, donkiejare terug deur my pa aan dié sport blootgestel," vertel Barnard. Hy spog met Springbokkleure vir duiwewedvlugduiwe-vlieg, asook ook kleure vir skou, administratief en beoordeling.
In 1974 begin hy sy sportloopbaan in duiwewedvlug en vertel dat hy nog nooit een wedvlug gemis het nie.
Barnard kom oorspronklik van Oos-Londen, waar hy jarelank klubkampioen, asook unie-kampioen was. Tydens die groot jaarlikse duiwewedvlugte wat by Sun City gehou word, het hy in die vroeë 2000's met onder andere die beste en ook die sesde beste duif gespog.
Help juniors
Barnard beywer hom ook om 'n liefde vir die sport by die jeug te kweek. Daarom help hy oral waar hy kan om die jonges touwys te maak. Sy regterhand by sy duiwehokke is Taona Katye van Zimbabwe, wie se vierjarige dogtertjie, Tashimga ook 'n jong posduifentoesias is.
"Sy gaan volgende jaar as 'n junior by die Mosselbaai Posduifklub aan dié sport deelneem. Sy gaan haar eie duiwe met hul eie ringe, uit haar eie hok vlieg," sê Barnard.
Hy is besig om vir haar 'n hok vir haar duiwe te bou. Barnard vertel dat sy graag in die hok na die duiwe sit en kyk.
"Sy gee gereeld vir die duiwe badwater en help ook baie ywerig om elke dag vir hulle skoon drinkwater te gee," vertel hy. Volgens Barnard is daar tussen haar en haar pa groot belangstelling in die duiwesport en gaan sy nog groot hoogtes bereik.
Sterk kompetisie
Met ongeveer 13 of 14 wedvlugduiweboere in Danabaai alleen, is die kompetisie onder die manne sterk. Boonop beskik hulle oor baie goeie duiwe. Die Eden Posduiffederasie waarvan Mosselbaai Posduifklub 'n affiliaal is, se wedvlugseisoen strek van die eerste week in Junie tot einde Oktober. Daarna kry die manne hul duiwe reg vir broeityd. Die duiwe verveer tussen Desember tot Mei.
Duiwewedvlug is 'n sport soos enige ander sport. Buiten gebalanseerde kos, baie oefening en inentings, is daar baie aspekte wat in ag geneem moet word om 'n wenduif te teel. Weerstoestande soos temperatuur en wind, asook berge, oorhoofse kraglyne en roofvoëls is maar 'n paar van die faktore wat duiwe soms op pad huis toe moet trotseer.
Baie weersfaktore moet in ag geneem word alvorens die duiwe vir 'n wedvlug losgelaat word. Hulle word nie in reënweer, oormatige hitte, sterk wind of wanneer die berge onder mis of wolke is, losgelaat nie.
Duiwe word voor 'n wedvlug goed voorberei vir die kort-, middel- of langafstan en sal soms tydens wedvlugte gaan sit om water te drink. Van die langste afstande wat gevlieg word kan tot so ver as 1 000km wees.
Munisipale regulasies, sowel as die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduiforganisasie (SANPO) se reëls en regulasies in verband met wedvlugduiwe moet nagekom word alvorens jy wedvlugduiwe mag aanhou.
"'n Duifkuiken word op 28 dae gespeen. Drie weke daarna vlieg hulle en drie weke daarna kan jy hulle pad toe vat. Daar is egter baie ander maniere om die duiwe wedvluggereed te kry. Goeie duiwe en harde werk is wat 'n sukses maak van enige wenduif," sê Barnard.
Danie Barnard boer onder andere ook met skoukanaries en -budgies.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'