TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Verlede Saterdag is die Mich van Heerden-jukskeidag op Stilbaai se netjiese, versorgde jukskeibane van stapel gestuur.
Die dag word jaarliks ingeruim in die Eden-jukskeiprogram.
As gevolg van die Covid-19-pandemie kon die gesogte toernooi die afgelope twee jaar nie plaasvind nie. Dit het tot gevolg gehad dat die geesdrif geweldig sterk opgelaai het vanjaar.
Gevolglik het spanne vanaf Hartenbos, Albertinia, Riversdal, Jongensfontein, Gouritzmond en uiteraard vanaf Stilbaai ruim ingeskryf.
Die toernooi is op die spanspel, oftewel viersmanspel gebaseer. Vier spanne in die B-afdeling is ingeskryf terwyl agt spanne mekaar die stryd aangesê het in die C-afdeling. Die wedywering tussen die onderskeie spanne was straf te oordeel aan die klein punteverskil tussen die onderskeie spanne, veral in die C-afdeling.
Gouritzmond en Stilbaai sorteer eintlik onder die sosiale jukskeiklubs in Eden en met sulke georganiseerde byeenkomste maak hulle hul stemme behoorlik dik en gee dan die gesoute spelers kwaai opdraande.
Verrassend was die pryse wat aan die einde van die dag aan die spelers oorhandig is. Behalwe dat dit 'n goeie beloning was vir harde "werk" het dit groot vreugde aan al die moeë spelers verskaf.
In die B- en C-afdelings het Hartenbos getoon dat hulle beslis die toon aangee in die Eden-jukskeidistrik en welverdiend bo geeïndig het in hul onderskeie afdelings. Benewens Hartenbos het Gouritzmond en Albertinia in die C-afdeling hulself deeglik laat geld.
B-afdeling:
Hartenbos B1 (57); Hartenbos B2 (55); Riversdal (42); Stilbaai (24).
C-afdeling:
Hartenbos (60); Gouritzmond C1 (59); Albertinia (58½); Gouritzmond C2 (52); Jongensfontein (51½); Gouritzmond C3 (48½); Stilbaai C1 (46); Stilbaai C2 (41½).
Môre, Saterdag 20 November word die ligaprogram voortgesit op Riversdal. Let wel die opening is om 07:30 en klubklere word aangetrek.
Hartenbos B1: Elna van den Berg, Dolf Barnard, Duimpie van Zyl en Ewie Engelbrecht.
Hartenbos C: Louis Minnaar, Viadre Fourie, Malie Pienaar en Elias Burger.
Hier maak millimeters beslis saak.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'