Gallery Video
HESSEQUA NUUS - 'n Plaaslike hengelaar van Gouritzrivier, Erno Muller is deur die Gouritzrivier sambreelliggaam vir bewaring geloof nadat hy 'n boerkabeljou van 53kg gevang en vrygelaat het.
Die reusevis is Woensdag, 27 Januarie in die Gouritzrivier gevang.
Muller vertel hy het een uur en twintig minute gestoei om die kabeljou te land.
"Ek het dit weer vrygelaat, soos ek met die meeste van my vangste maak. Dis bitter min dat ek 'n vis nié vrylaat nie," het Muller gesê. Hy sê hy vang al sy lewe lank daar vis aangesien hy daar gebore is en groot geword het.
Die voorsitter van Gouritz-rivier sambreelliggaam vir bewaring, Org Niewoudt het met lof gepraat van Muller se goeie daad. Hy verduidelik dat so 'n vangs baie min plaasvind. Volgens Niewoudt toon navorsing dat daar slegs 2,7% van Suid-Afrika se historiese boerkabeljou-broeipare in ons oseane oor is. Niewoudt skat die vis 50-jaar oud. "Hulle groei teen ongeveer een kilogram per jaar en begin eers eiers broei op vyf kilogram."
"Hierdie groot vis het al slim geword in die stryd om oorlewing. Hulle weet hoe om ander roofvisse te ontduik." Niewoudt moedig alle hengelaars aan om dieselfde as Muller te doen om die uitroei van die vis te voorkom. "As 'n vis soos dié eiers lê, oorleef slegs een persent van die kleintjies. Dis hoe kritiek die situasie is."
Kyk 'n video hieronder:
Muller sê dis die grootste kabeljou wat hy nog gevang het. Hy het kunsaas gebruik. "Dit was 'n ongelooflike gevoel om so groot vis te vang."
Die SA rekord boerkabeljou-vangs is net meer as 76kg.