Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - As jong seuntjie was sy pa, Hannes, se doen en late in en om die duiwehok fassinerend genoeg om die 14-jarige Carel Grové se liefde vir posduiwe 'n jarelange toewyding te maak.
Hannes Grové is reeds jare lank betrokke in die wedvlugduiwesport en sy seun, Carel het van tweejarige ouderdom reeds belangstelling hierin begin toon.
As nuwe intrekkers in Danabaai sedert Oktober 2021 het Hannes en Carel Saterdag, 4 Junie hul eerste wedvlug as lede van die Mosselbaai-posduifklub gehad.
Carel het tydens die afgelope Saterdag se wedvlugte vanaf Drie Susters (270km) 'n sesde posisie in die juniors se jaaroud-wedvlug en 'n vyfde posisie in die junior ope-wedvlug behaal.
VIDEO - Carel en sy duiwe gaan nog groot hoogtes bereik in Mosselbaai (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser).
Van Carel se beste prestasies tydens deelname in Gauteng, was toe hy in een seisoen twee keer tweede in unie-wedvlugte was en dit was teen senior lede met minstens 1 500 duiwe wat per wedvlug deelgeneem het. Hy en sy pa was self al vier jaar agtereenvolgens unie-kampioene in die jaaroud-reeks in Gauteng. Dié rekord staan steeds. Hulle was ook unie- kampioenskapwenners in Gauteng. Met so 'n pa-en-seun-kombinasie word die tradisie voortgesit en gaan die jong seun beslis begin om naam te maak in Mosselbaai.
Aanpassing
Volgens Hannes is dit vir die duiwe wat hulle van Johannesburg hierheen gebring het 'n aanpassing in die nuwe omgewing.
Wedvlugduiwe is 'n sport soos enige ander sport en 'n gesonde, goed geteelde duif met gebalanseerde kos, inentings en gereelde oefening is van die aspekte wat in ag geneem moet word om 'n wenduif te klok. Weerstoestande soos temperatuur en wind, asook berge, oorhoofse kraglyne en roofvoëls is maar 'n paar van die faktore wat duiwe soms op pad huis toe moet trotseer.
Duiwe word voor 'n wedvlug goed voorberei vir die kort-, middel- of langafstande. Van die langste afstande wat gevlieg word kan tot so ver as 1 000km wees.
Die sportsoort skep geleentheid vir jong entoesiaste om verantwoordelikheid en verskeie ander lewensvaardighede aan te leer. Carel is bevoorreg om tuisonderrig te ontvang en kan dus gereeld aandag aan sy duiwe gee.
Carel Grové in die duiwehok met een van sy duiwe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'