TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Lente is met ons en daarmee saam ‘n huppel in die stap van menige hengelaar; vol hoop dat die oplewing wat nou oral in die natuur waargeneem word, ook in vangste langs die bloudam ervaar sal word.
Visse om nou voor te probeer:
Galjoen
Die jagtog na hierdie gesogte vis duur voort tot die seisoen middel Oktober sluit. Die groot menere is juis lief om hengelaars teen die einde van die seisoen te verras.
Mosselkrakers
Vanaf Oktober begin die eintlike seisoen vir hierdie sterk vegters wat in die Suid-Kaap ook onder die mooi streeknaam as beenbek bekend is. So genoem omdat die groot bek met malertande uitgeplavei is. Rooikrap, alikreukel en sandkrap is deesdae die gewildste aas nadat siffies ‘n paar jaar gelede tot verbode aas verklaar is. ‘n Sterk hooflyn, strop en hoek is ‘n vereiste. Hoeke van swak gehalte word dikwels toegedruk. ‘n Dun lyn sal maklik oor die riwwe afgeloop word.
Witsteenbras
Die lentemaande is ‘n baie goeie tyd vir hierdie sneltreine wat hoofsaaklik vanaf sandstrande gevang word. Interessant is dat die sandkrap waarmee hulle onder andere gevang word, dikwels deur krakers opgeraap word. Steenbrasse kan ook in koue water (15°-16° Celcius) gevang word wanneer die meeste ander visse liefs verbyhou.
Elf
Ek het verneem van sporadiese vangste van mooi elwe. Nie baie nie, maar hulle is hier. Die seisoen vir hierdie lewendige bakleier en heerlike eetvis eindig einde September en open weer op 1 Desember.
Kabeljou
Ook hierdie visse het plek-plek gewys hulle is hier. Namate die winterstormweer wyk en die suidoos meer gereeld begin waai, kan beter vangste verwag word.
Hengelaars wat sandkrewels, bloedwurm en maanskynwurm bekom, kan ook visse soos baardman en gespikkelde knorder (grunter) raakloop.
Eweningspringgetye
Buitengewone springgetye kom voor om en by die dag- en nageweninge op 21 Maart en 22 September elke jaar. Dan is die son en maan se posisies met betrekking tot die aarde só dat hul gesamentlike aantrekkingskrag op die see buitengewoon sterk is.
Laagwater word dan uitsonderlik laag en hoogwater uitsonderlik hoog.
Aas en seekos word baie maklik bekom. Ook is dit ‘n besonderse ervaring om te sien hoe ver die see terugtrek met laagwater. By ‘n rotskus is dit ‘n belewenis om die ryk marienelewe te aanskou. Tydens die eerskomende nuwemaanspring (nuwemaan is 17 September) behoort die see weer baie laag en hoog te word.
Nog ‘n voordeel van hierdie buitengewone springgetye is dat groot skole vis, veral kabeljou, die dieper water tydens hooggety benut om riviermondings binne te kom, tot groot blydskap van getyrivierhengelaars.
Die gesogte elf baklei lekker aan die lyn. Foto: Fishinginfo.co.za
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'