MOSSELBAAI NUUS - Die afrigterskommisie van die Eden-sportraad (Edensr) onder leiding van Abrie de Swardt, bied as deel van die Mosselbaai Sportfees, 'n afrigterskonferensie op Woensdag, 19 September aan. Dit vind om 18:00 in die Ou Kragstasie, Santosstrand, Mosselbaai plaas met registrasie en verversings alreeds om 17:30.
Daar is 51 sportfederasies by die Edensr geaffilieer en die afrigters is almal welkom. Daar word veral 'n beroep op vroue- en skoleafrigters gedoen om dit by te woon en hulle inette te kom gee. Eden beskik oor top afrigters, inteendeel, die pas gekroonde Wes-Kaap-afrigter van die Jaar, Claudio Miller, kom uit die geledere van Eden-lewensredding.
Die Edensr se afrigterskommisie is besig met verskeie projekte – 'n noodhulpkursus is pas afgehandel, in Oktober word 'n werkswinkel vir afrigters aangebied, 'n werksessie vir sportkapteins word beplan en die daarstelling van 'n digitale sportbiblioteek met 'n verskeidenheid van sportartikels is in 'n gevorderde stadium.
Dit is dus die visie van die afrigterskommissie om alle afrigters op 'n databasis te kry en sodoende skole en klubs te kan help om afrigters te kontak om te help. Daar word ook ernstig gekyk na afrigteropleiding op veral die vlakke van sport vir gestremdes en vroue.
Die Eden-sportakademie gaan ook die nuwe formaat voorhou wat in die toekoms gaan geld. Die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport speel 'n ondersteunende rol in baie van die projekte.
Enige afrigter wat belangstel kan vir Dave van der Walt (sportcouncil.eden@gmail.com of 082 773 4901) kontak vir inskrywings of meer inligting.
Vir inskrywings epos net die naam, sportkode, sportfederasie/klub, eposadres en selfoonnommer na bostaande eposadres.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'