TUINROETE NUUS - Groot belangstelling heers vir die Finovo Jakkalberry Extreme MTB Race, wat deur CSA (Fietsry Suid-Afrika) onderskryf word en aan al die nodige reëls en regulasies voldoen. Die wedren vind op 17 Desember vir die tweede keer plaas.
Wanneer die deelnemers reeds vroegoggend op 17 Desember die speke laat sing, sal hulle ook gerus kan wees dat alles vir 'n goeie doel is.
Die organiseerders, die Vryburger Omgeemense van George, bied die geleentheid aan in samewerking met die hoofborg, Finovo, 'n plaaslike rekenmeestersfirma, asook ander borge en donateurs, om geld in te samel vir een van hul mees prominente omgee-aksies, die Kos Vir Kinders-projek.
Die Kos vir Kinders-projek word reeds jare lank deur die Vryburgers gedryf met die doel om skole se voedingsprojekte te ondersteun sodat kinders uit behoeftige omstandighede daagliks 'n voedsame kospakkie by die skool kan ontvang.
Hanno Maritz van die George Vryburgers en projekleier het Maandag gesê behalwe dat die opbrengs vir 'n goeie doel gaan, is die Jakkalberry Extreme MTB ook 'n geleentheid om die Eden-streek as toerismebestemming ten toon te stel en om plaaslike besighede 'n hupstoot te gee.
"Ons doelwit met die Jakkalberry is om 'n ikoniese, prestige bergfietswedren met 'n unieke karakter te vestig wat deelnemers vanoor die land en selfs internasionaal hierheen sal lok."
Die naam Jakkalberry het heel gepas ontstaan omdat die wedren twee van die Tuinroete se ikoniese bestemmings, die Redberry Farm net buitekant George en Jakkalsvlei-wynkelder naby Mosselbaai, met mekaar verbind.
Die roete verken die agterpaaie en die natuurskoon van die Outeniquaberge en bevestig waarom George en die Tuinroete besig is om in een van die land se voorste bergfietsbestemmings te ontwikkel.
Daar kan vanjaar vir twee afstande ingeskryf word. Die Extreme, wat oor
108 km strek, spring weg by die Redberry Farm, terwyl die HalfJakk, wat oor 50 km strek, twee ure later by Ruiterbosch Lodge, naby Hartenbos, wegspring. Beide wedrenne eindig by Jakkalsvlei-wynkelder.
Die Extreme, met 'n totale klimhoogte van 2 277 m, sal ryers tot die uiterste beproef, tog is dit gemaklik binne die bereik van ervare, fikse fietsryers en sal dit heelwat makliker wees as verlede jaar se wedren wat oor 'n 100 myl beslis is. Die padoppervlak is gangbaar en die roete bestaan hoofsaaklik uit distrikspaaie en tweespoorpaaie.
Fietsryers neem deel as individue en daar is 'n mans- en vrouekategorie vir elke afstand.
Vir die ryers sal daar vyf waterpunte op die roete wees waar eet- en drinkvoorraad aangevul kan word.
Vir meer inligting en/of om in te skryf, besoek gerus die webtuiste www.jakkalberry.com
Foto's van verlede jaar se geleentheid
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'