MOSSELBAAI NUUS - Talle gimnaste van MATT Gymnastics gaan in Augustus die Eden-span by die Wes-Kaapse tuimel- en trampolienkampioenskappe verteenwoordig.
Die klub se afrigters, Kasper Janse van Vuuren en Elize Janse van Vuuren, sê hulle is ongelooflik trots op hierdie gimnaste.
Dit was te danke aan hul uitstekende prestasies tydens die Eden-proewe op 18 Julie dat hulle nou die streek op 'n provinsiale vlak kan verteenwoordig.
Altesaam 16 van die klub se gimnaste het aan die proewe deelgeneem en het 'n indrukwekkende 26 medaljes in verskeie afdelings verower.
"Die grootste prestasie is dat ál 16 gimnaste gekwalifiseer het om Eden te verteenwoordig," sê hul afrigters.
Dié 16 is soos volg: Judah Minnie, Zeah du Plessis, Mionè Britz, Ben du Plessis, Stefan Borka, Talesha Nel, Carlè Hoffman, Nikita Nel, Leah Janse van Vuuren, Ziya de Villiers, Schalk du Preez, Lingomso Sitsheke, Johlene Opperman, Dewi Switjnk, Brian Herbst en Bronti-Mae Cordewener.
Die provinsiale kampioenskappe vind van 28 tot 30 Augustus in Brackenfell plaas.
"Ons is besonder trots op die gimnaste se harde werk, deursettingsvermoë en uitstekende sportmanskap. Hierdie uitslae is 'n bewys van hul toewyding. Baie sterkte met julle voorbereiding en ons sien daarna uit om julle te sien meeding!"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’