TUINROETE DISTRIK SPORTNUUS - Mense wat wil deelneem aan twee unieke wedlope by een van die Tuinroete se bekendste toerismebakens, Kaart van Afrika, op 23 Oktober moet vinnig spring want net 'n beperkte aantal deelnemers gaan toegelaat word.
Deelnemers kan kies tussen twee wedlope van onderskeidelik, 8km en 21km.
Alewijn Dippenaar van Thousand Sensations een van die organiseerders, het Maandag gesê reëlings is op koers. Die 21km-wedloop sal om 08:00 op die oggend van 23 Oktober wegspring en die 8km, 10 minute later.
As gevolg van die Covid-19-situasie word getalle beperk. Daar word gemik om 300 deelnemers te laat deelneem. Teen Maandag het 176 deelnemers reeds ingeskryf. Dit is die eerste keer dat dit sal plaasvind.
Die geleentheid vind plaas op die plaas waarop die Kaart van Afrika geleë is en waarvan Bruce Jackson een van die eienaars is.
Die plaas het 'n lang geskiedenis. Dit is een van die oudstes in die gebied en het oorspronklik bekend gestaan as Pampoenkraal. Deesdae is dit bekend as Woodifields. Die ingang is suid van die Nelson Mandela Universiteit, George (voorheen Saasveld).
Kaart van Afrika waar die wedlope gaan paasvind.
Wedlope
Die wedlope staan bekend as Cairo to Cape and Back. Deelnemers aan die 8km deel sal tot by die 'ewenaar' en terug hardloop. Dit behoort hulle sowat 'n uur en 15 minute te neem.
Deelnemers aan die 21km sal van 'Kairo tot by Kaapstad en terug' hardloop en dit behoort hulle sowat drie ure te neem. Op die roete sal bordjies wees wat aandui as deelnemers 'n 'land' inbeweeg soos byvoorbeeld die Kongo.
Volgens Dippenaar is daar groot belangstelling vir die geleentheid.
Ontstaan van wedloop
Die aanloop tot die wedloop kom 'n lang pad. Dippenaar en Jackson ken mekaar al 10 jaar en het oor die jare goeie vriende geword. Twee jaar gelede is besluit om dele van die grond skoon te maak van indringerplante en paaie oop te maak vir noodvoertuie om toegang te kry wanneer dit nodig sou wees. Daar is toe besef dat die paaie aangewend kan word vir veldwedlope. Met die wedloop sal lede van die publiek toegang kan kry tot die besonderse stuk aarde.
Vermaak en verversings
Paul Clarcke, 'n musikant van Mosselbaai, sal musiek verskaf en stalletjies al ook beskikbaar wees waar mense verversings kan koop. Na afloop van die wedlope, sal elke deelnemer 'n ontbyt ontvang.
Dit is oop vir almal en alle ouderdomme. Mense wat wil deelneem kan 'n e-pos stuur aan dymdev@mweb.co.za.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'