Gallery
SPORTNUUS - Vanaf sy stigting beskou die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) junior opleiding as een van sy prioriteite op die jaarprogram en die onlangse naweek was geen uitsondering toe nóg 'n geslaagde veldskool op die Wouter de Vos-skietbaan, naby Klein-Brakrivier aangebied is nie.
Aspirant leerders uit verskillende laerskole in die Suid-Kaap het deelgeneem aan die veldskool en het hul eerste naweek van die skoolvakansie verruil vir 'n onvergeetlike naweek in die veld.
FOTOGALERY: Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) junior opleiding
Met aankoms die Vrydagoggend by die kamp moes die 27 kinders hulle eie tente opslaan wat moes staande bly tot Sondag.
Die verskillende aktiwiteite het dit ten doel om kinders reeds op jeugdige ouderdom toe te rus om keuses te kan maak rondom gesonde maniere van ontspanning weg van die rekenaar, selfone, televisie en sosiale media, asook die belangrike rol wat die mens in die natuur speel ten opsigte van die bewaring van ons natuurlike hulpbronne en die volhoubare benutting daarvan. Verder word kinders toegerus om tydens noodsituasies in die veld en by die huis te kan oorleef.
Alle aanbiedings is sover moontlik prakties aangebied en ingeoefen, byvoorbeeld die regte keuse vir 'n skuiling, verkryging van water vir oorlewing, knope en vaswoele, nodige hand- en noodseine, korrekte nagbeweging, veilige maak van vure, oordeelkundige pak van 'n rugsak en fyn waarneming met die doel om te bewonder en te bewaar. Alles het in spanverwant plaasgevind met groot kompetisie tussen die spanne.
Hulle moes dink, planne maak en self oplossings vind vir probleme en sonder dat hulle eers daarvan bewus was, was hulle besig met leierskapontwikkeling, verantwoordelike optrede tydens noodsituasies, die belangrikheid van groepwerk en kommunikasievaardighede.
Praktiese skietopleiding was die hoogtepunt van die naweek.
Hoogtepunte was die kompeterende skyfskiet met .22's, tradisionele speletjies, spanwerk, inligting oor die rol van bye in die natuur en die belangrikheid van kamoeflering vir mens en dier. Tydens die nagmars is basiese radioprosedure aan hulle verduidelik, ingeoefen en vele meer. Die vyf spanne het met sorg drie inheemse bome by die skietbaan geplant.
Die veldkombuis se tannies het gesorg vir lekkernye na elke dag se vol program.
Die veldskool was weereens 'n groot sukses, te danke aan toegewyde mentors wat hul kennis en ervaring met die leerders gedeel het.
Hulle is ook deeglik daarvan bewus gemaak dat al wat moet agterbly nadat hulle in die veld was, is hul voetspore.
Vir meer inligting kan die SJB-kantoor geskakel word by 044 695 2319 (weeksdae 09:00 - 13:00) of Fermi Meyer, bestuurder: junior opleiding by 072 444 8236.
Skuiling word gebou om die nag te oorleef.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’