MOSSELBAAI NUUS - Die gesogte MP Prinsloo interprovinsiale jukseitoernooi het verlede Saterdag op Beaufort-Wes plaasgevind.
Vanweë die Covid 19-pandemie en verskeie variante daarna kon die toernooi die afgelope twee jaar nie gespeel word nie. Gevolglik was die belangstelling oorweldigend.
Spanne uit die Noord-Kaap, Nelson Mandelabaai, die Suid- en Wes-Kaap asook Weskus het in groot getalle ingeskryf en hul opgekropte entoesiasme deur middel van die gooi van skeie kom illustreer.
Hoewel Beaufort-Wes bekend is as 'n uiters warm dorp met hoë temperatuur, het die bewolkte dag heel skaflik ontwaak. Teen elfuur die oggend het die son deurgebreek en het die Sentraal Karoodorp sy bekende warm baadjie aangetrek. Uitroepe van “sjoe, maar die son is warm” en “sal die wind nie maar opkom om 'n lafenis te verseker nie” is herhaaldelik gehoor.
Die spel het egter voortgegaan en verrassings was aan die orde van die dag. Die voorbokke van meet af aan was veral die A-spanne van Overberg, Noord-Kaap en die Westelike Provinsie.
In die B-afdeling was dit eweneens Noord-Kaap met Eden 'n kortkop agter, terwyl die WP self in hul nekke geblaas het.
In die C-afdeling het Overberg die voortou geneem met die Kaapse Wynlande (vroeër Boland) en die Weskus in die tweede en derde posisie, kort op hul hakke.
Die D-afdeling met Eden in die eerste plek het mekaar deeglik opgekuil. In hierdie afdeling was die punteverskil slegs vyf punte tussen die eerste en derde plek. Voorwaar straf met Kaapse Wynlande tweede en Nelson Mandelabaai (vroeër Oostelik Provinsie) in die derde plek.
Die klein verskil in punte tussen die eerste drie tot vier spanne in elke afdeling is 'n duidelike bewys van die strawwe wedywering tussen die kompeterende spanne om die gesogte goud, silwer en brons medaljes.
Wenners van silwer: Eden B-span: Jan van Dyk, Johan van Dyk, Ewie Engelbrecht en Henry Gerber.
Uitslae:
A-afdeling: Overberg (68); Noord-Kaap (65); Eden (60½); WP (57½); Kaapse Wynlande (51½); Nelson Mandelabaai 2 (49½); Weskus (38½); Nelson Mandelaai 1 (29½).
B-afdeling: Noord-Kaap (69½); Eden (62½); WP 2 (59½); Overberg (54); KWL (52); WP 1 (50½); Nelson Mandelabaai (39½).
C-afdeling: Overberg (61); KWL 1 (51); Weskus (49); KWL 2 (41½); Overberg 2 (41½); WP (38); Noord-Kaap (33).
D-afdeling: Eden (62); KWL (60); Nelson Mandelabaai (52); Overberg (41); Noord-Kaap (38); WP (36); Weskus (26).
Hoewel al die bedoelde houe veral wat betref reguitlê’s, en wegpenne wat uiteraard skofte verseker nie gereeld na wense uitgevoer is nie, was die eindresultate bevredigend en het die voorste spanne die knoop deurgehaak deur die aanteken van deurslaggewende skofte.
Die dag is afgesluit met die oorhandiging van die hardverdiende goud (1ste), silwer (2de) en brons (3de ) plekke verower. Afskeid is geneem met stewige handdrukke met die vooruitsig na die volgende MP Prinsloo-toernooi in Februarie 2023.
Môre, Saterdag, 12 Februarie word 'n ope jukskeidag op Riversdal aangebied deur die Riversdal-jukskeiklub. Hartenbosspelers neem kennis dat in klubkleure meegeding word.
Wenners van brons: Eden A-span: Annette Esterhuizen, Dolf Barnard, Bossie Boshoff en Sydney Stopforth.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'