TUINROETE SPORT NUUS - Eden-jukskeidistrik het die afgelope naweek 'n uiters geslaagde Driedag-jukskeitoernooi onder leiding van die president, Hendry Gerber aangebied.
Dit was Eden se eerste poging om so 'n toernooi aan te bied en alles het bo verwagtig vlot verloop.
Die Hartenbos-jukskeiklub se bane is gebruik om die deelnemende spanne te huisves. Behalwe spanne uit Eden-distrik waaronder George, Hartenbos, Groot-Brakrivier, Danabaai, Boggomsbaai, Riversdal en Mosselbaai is goeie ondersteuning vanaf WP, Kaapse Wynland (vroeër Boland) en die Oostelike Provinsie ontvang.
Donderdag
Spel het op Donderdag, 8 Augustus afgeskop met die driespelformaat. Spanne het uit drie spelers bestaan en daar is in drie afdelings meegeding. Kenmerkend was die klein punteverskil tussen die verskillende spanne se totale puntestand. Dit dui op taai mededinging en geen span wat sommer wou besgee nie. Die uitslae in die driespel is soos volg: (punte in hakies).
A-afdeling: Hartenbos A2 (39½ ); Hartenbos A1 (39).
B-afdeling: Danabaai (28); Hartenbos (28); Groot Brak (15½). Danabaai en Groot Brak verteenwoordig sosiale klubs.
C-afdeling: Boland C1 (39); Boggomsbaai (35½); Groot Brak (35). Boggomsbaai en Groot Brak speel deurgaans sosiaal.
Vrydag
Vrydag, 9 Augustus het die gewone spanspel (vier spelers in 'n span) plaasgevind. Daar is in drie afdelings deelgeneem. Die spanne in al drie afdelings het mekaar deeglik opgekeil en geen wegholoorwinnings, is behaal nie. Slegs die eerste drie plekke word aangedui.
A-afdeling: Eden (33½); Boland C1 (32½); Drie woorde 'n Spyker (21½) (besondere benaming van die span).
B-afdeling: Groot-Brakrivier (37½); Danabaai (34½); Boland C2 (33½).
C-afdeling: Boland C3 (40½); Boggomsbaai (32½); Riversdal (31½).
Saterdag
Saterdag, 10 Augustus het Kaapse Wynlande, WP, OP en Eden mekaar die stryd aangesê. Daar is in die vierman spanformaat meegeding. Die meer ervare spelers wat reeds baie jare die spel beoefen en wat uiters bekwaam en behendig is met die hantering van skeie het hoofsaaklik in die A-afdeling meegeding. Briljante houe is waargeneem en spanne het mekaar goed opponeer wat lae tellings met klein verskille weerspieël. Die uitslae in die twee afdelings volg met slegs die eerste drie plekke se punte. Eden se B-span het ook in die A-afdeling meegeding.
A- en B-afdeling: Eden (39½); Kaapse Wynland (35); WP (22).
C-afdeling: Kaapse Wynland C3 (45); Riversdal C1 (45); Kaapse Wynland C2 (43).
Aan die einde van die driedagtoernooi is toekennings aan die wenners oorhandig. Elke speler wat aan die toernooi deelgeneem het, het 'n sertifikaat ontvang vir elke dag wat hy/sy gespeel het. Goud, silwer en brons medaljes is aan die spelers toegeken vir elke dag se deelname met dien verstande dat hulle onder die eerste drie plekke geëindig het.
Wenners van silwer medaljes in die A-afdeling is Louis Badenhorst, Leana van der Walt, Pieter van Straten, Rian van der Walt.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'