Video
TUINROETE | HESSEQUA NUUS EN VIDEO - Na maande van inperking het die "uitgehongerde" jukskeispelers van Eden-distrik hul skeie uit isolasie gehaal en Vrouemaand op Saterdag, 8 Augustus op Hartenbos se jukskeibane gevier.
Selfs die koronavirus wat sy tentakels in so baie sportsoorte, ook in jukskei ingeslaan het, moes wyk voor uitgeruste en entoesiastiese jukskeispelers.
Daar is beslis aan die voorgeskrewe voorsorgmaatreëls voldoen, soos reiniging met spesiale water, koors meet en selfs elmbooggroet, maar niks kon die geesdrif demp nie.
Spelers, in totaal 30 vanaf Albertinia, Boggomsbaai, Jongensfontein, Riversdal, George en Hartenbos het opgedaag. Die wisselvallige weer het pragtig saamgespeel en die voorgeskrewe program kon voltooi word in heerlike sonskyn en 'n windlose dag. Die lang wag sedert vroeg Maart vanjaar kon selfs nie die geesdrif demp nie.
Daar is in twee afdelings meegeding: Ses spanne van drie spelers per span (trips) in die C-afdeling en vier spanne van drie spelers per span in die B-afdeling.
Weliswaar het die lang periode van leeglê en passitiwiteit sy tol geëis en het teen die einde van die dag duidelik uitgewys toe onfikse spelers begin moeg raak. Minder penne het geval en afgeronde en presisie houe het al minder die lig gesien.
Kyk 'n video hieronder:
Die uitslae is soos volg:
In die B-afdeling het die span bestaande uit Bossie Boshof, Buks Scholtz en Dolf Barnard met een punt die louere weggeraap voor die span van Sydney Stopforth, Pieter van Straten en Johnny Coetzee. Eindtellings 59 teenoor 58.
B-afdeling: Hartenbos B1 (59); Hartenbos B2 (58); Jongensfontein (41½); Hartenbos B3 (28½).
C-afdeling: Boggomsbaai (53½); Albertinia (51); Jongensfontein C1 (42½); Hartenbos C1 (31½); Riversdal (24); Mosselbaai C (22½).
Die volgende ligatoernooi vind op 22 Augustus op Riversdal plaas. Die Eden-bestuur het ruim 14 dae toegelaat tussen byeenkomste om te verseker dat indien 'n speler dalk positief getoets sou word sodanige speler tyd gegun word om te kan herstel.
Hendriena Kumm van Groot-Brakrivier in aksie met die skeie tydens 'n juskei-opedag wat in Hartenbos op Saterdag, 8 Augustus gehou is. Foto's: Grey Stopforth
Foto's: Grey Stopforth
Foto's: Grey Stopforth
Foto's: Grey Stopforth
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'