MOSSELBAAI NUUS - Die voorjaar jukskeiseisoen het op 11 Desember 2021 tot stilstand gekom.
Gedurende die eindjaar vakansie het spelers (ook besoekende spelers) lukraak geoefen soos die geleentheid hom voorgedoen het.
Verlede Saterdag het die najaarse amptelike jukskeiseisoen met 'n strawwe wedywering afgeskop.
Albertinia, Outeniqua (George), Hartenbos se klubs, asook 'n span van die sosiale klub van Groot-Brakrivier het hul vaardighede met die skeie kom uitstal.
Riversdal moes onttrek omdat Barry van Schalkwyk se eggenote die vorige week oorlede is en die roudiens Saterdag op Stilbaai plaasgevind het. Barry is 'n ywerige jukskeispeler en voorsitter van Riversdal-jukskeiklub.
Die lang aflêperiode het baie leemtes van spelers blootgelê. Die penkrag was onder standaard en die penlê's het nie hul vereiste lêplek klokslag gevind nie.
Drie B- en drie C-spanne het ingeskryf. Ten einde die dag meer interessant en mededingend te maak het al die spanne teen mekaar gespeel. Die B-spanne het dubbelrondes gespeel.
Wegholoorwinnings was daar nie. Dit is duidelik waarneembaar in die klein punteverskil tussen die spanne in die B-afdeling en ook tussen die spanne in die C-afdeling.
Finale uitslae
B-afdeling: Hartenbos B1 (36); Hartenbos B2 (30); Outeniqua (24).
C-afdeling: Groot-Brakrivier (21); Hartenbos (20½) ; Albertinia (18½).
Saterdag 5 Februarie vind die MP Prinsloo-toernooi op Beaufort-Wes plaas.
Vanweë die Covid-19-pandemie is die toernooi gedurende die 2020 en 2021 seisoene nie gespeel nie, daarom is die huidige belangstelling oorweldigend. Spanne vanaf Noord-Kaap, Nelson Mandelabaai (vroeër Boland), WP en Eden skryf in die A-, B-, C- en D-afdelings in.
Eden-spelers word daarop gewys dat Eden-jukskeidrag vereis word en dat penne en jukskeie in Eden-kleure geverf moet wees.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'