EDEN SPORTNUUS - Ingevolge 'n besluit op die algemene jaarvergadering van Eden-jukskei het die eerste winterligatoernooi verlede Saterdag op Hartenbos 'n aanvang geneem.
Die belangstelling van spelers sover as Jongensfontein en Riversdal sowel as van nabygeleë klubs soos Mosselbaai, Groot-Brakrivier asook Hartenbos was verbasend goed.
Kommentaar na afloop van die dag se spel was dan ook positief en opbouend. Algemeen is gevoel dat hierdie kompetisie 'n gulde geleentheid aan beginners en onervare spelers bied om geleidelik hul vaardighede op te skerp.
Die volgende byeenkomste is soos volg: 22 Junie op George; 20 Julie op Riversdal; en 17 Augustus bied Mosselbaai die toernooi aan op die Hartenbosbane.
Aangesien die uitslae en punte nie van belang was in hierdie kompetisie nie word dit nie vermeld nie.
Die motivering vir hierdie besluit is vanweë die feit dat wanneer 'n A-span teen 'n B-span meegeding het, is besluit om twee A-spelers en twee B-spelers in een span te verenig. Voormelde scenario het die geleentheid gebied aan onervare spelers om saam met gesoute en deurwinterde spelers hul eie spel te ontwikkel en op 'n hoër peil te kry deur waarneming en onmiddellike toepassing.
Die winterkompetisie leen hom daartoe om ook sosiale spelers die geleentheid tot deelname te gun. Sosiale spelers moet hiervan kennis neem en hulself beskikbaar stel vir deelname op genoemde datums.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete, Karoo nuus'