Gallery
SUID-KAAP SPORT NUUS - Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging se jaarlikse SSK-veldskiet het die afgelope naweek op die plaas Melkhoutdrift naby Heidelberg plaasgevind.
Die pryse was deur Sentraal-Suid Koöperasie (SSK) geborg. Behalwe vir die wenners se pryse, was daar ook verskeie gelukstrekkings gehou om vir almal die geleentheid te gun om nie met leë hande huis toe te gaan nie.
Die kompetisie het in ideale weersomstandighede plaasgevind en die wind, wat een van die grootste vyande vir 'n skut kan wees, was gelukkig afwesig tydens die kompetisie.
Skuts van alle ouderdomme het deelgeneem en die oudste skut was Johan Fourie (80) terwyl Inneke van Zyl (10) die jongste skut was wat aangelê na teikens. Van Zyl het 'n goeie telling behaal en gewys dat die jonger geslag oor goeie potensiaal beskik.
Die kompetisie het oor ses bane plaasgevind en afstande het vanaf 120m tot 400m gewissel.
Nadat die laaste skote in die verte verdwyn het, het die deelnemers gesellig verkeer terwyl die uitslae verwerk is. Lede en nie-lede word uitgenooi na die Wildman- eldskiettoernooi wat op 28 Maart naby Oudtshoorn gaan plaasvind. Vir navrae kontak die kantoor by 044 695 2319 of stuur 'n e-pos na info@suidkaapjagters.co.za
Uitslae
Die uitslae van die verskillende kategorieë is:
- Ope-afdeling: 1. Jacques du Plooy; 2. Raynor Becker; 3. Danie Barnard.
- Vroue: 1. Junita van Zyl; 2. Ronél Marx; 3. Michelle Martin.
- Juniors: 1. Marco Marx; 2. Erik Zeelie; 3. Marco van Staden.
- Veterane: 1. Jimmy Farnham; 2. Arthur Lilford; 3. Piet Langner.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'