Om hierdie gedeelte van die kursus te kon deurloop, moes hulle verlede jaar dié tyd die praktiese skietopleidingsgedeelte van die kursus wat intensiewe skietopleiding en die veilige hantering van vuurwapens insluit, slaag.
Aangesien SJB vir baie jare reeds beskou word as leiers op die gebied van junior jagopleiding, is SJB-voorsitter, Neels Meyer en Alvin Hayes, beskermheer en jarelange opleidingsbeampte van SJB, deur die Jagterskonfederasie van Suid-Afrika (CHASA), getaak om 'n kursus vir juniors daar te stel wat (toe) op nasionale vlak erken is.
Hierdie 13 jong jagters was die eerste groep wat die hele kursus voltooi het en kan spog met die gesogte CHASA sertifikaat.
Die kursus is ontwikkel om jongmense wat in die jagbedryf belangstel, toe te rus om eties korrek binne, sowel as buite die jagveld op te tree, sy prooi te respekteer, so vinnig as moontlik te dood, dit sinvol en met liefde te bewerk en die aktiwiteit met waardering te geniet. Samelopend met die opleiding vind die mentorjag plaas, waar die juniors saam met die instrukteurs die jagveld betree, waar die teorie en praktyk mekaarbereik deur 'n suksesvolle jagervaring.
Die agt dae kursus het vanjaar plaasgevind vanuit ‘n tentedorp in die Noord-Kaapse Kalahari. Elke dag se verrigtinge is afgesluit met 'n warm veldstort, 'n veldkombuis aandete uit die boonste rakke, evaluasie van die dag se aktiwiteite, kampvuur, samesang met kitaarbegeleiding en aandgodsdiens met 'n deurlopende tema waarna daar tente toe gebeur word vir 'n rukkie se slaap voordat die temperatuur in die minusse in beweeg.
Koudkry het ook sy voordele, want tydens die wakkerlê is daar ook tyd om die naggeluide te beluister en die natuur ook op hierdie manier te waardeer.
Die 13 junior lede van die SJB wat die tweede gedeelte van die praktiese jagopleidingskursus voltooi het.