Gallery
SUID-KAAP SPORTNUUS - Die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) het behoorlik die skote laat klap tydens hul gewilde ghonguitdaging
Die kompetisie het Saterdag, 17 November op die plaas Aangenaam van Henry van der Westhuizen in die De Rust-omgewing plaasgevind. Die dag se skiet is gekenmerk deur lekker weersomstandighede. Daar was 116 inskrywings en die ouderdomme het gewissel van jonk tot naby 80. Die kompetisie het in spanverband plaasgevind en elke span het uit vier skuts bestaan.
Die goeie beplanning van die baanuitlegte, die toegewydheid van die baanoffisiere en die persone wat verantwoordelik was vir die verwerking van die tellings het alles bygedra tot die sukses van die dag. Deelnemers het na staalplate wat oor afstande gewissel het vanaf 180 tot 390 meter, geskiet.
Die trekpleister van die dag was 'n 25.06 jaggeweer ter waarde van R12 800 wat deur Kloppers geskenk is. Die wenner van die geweer is bepaal deur 'n gelukstrekking. Stretch Esterhuizen het dit gewen.
Daar was ook verskeie ander gelukstrekkings, wat onder meer twee teleskope ingesluit het wat deur Klein Karoo Agri geskenk is.
Die kompetisie het uit ses bane bestaan met vyf ghonge per baan. Die uitlegte van die bane en skietposisies het werklike toestande in die veld nageboots wat jagters gereeld mee te doen kry.
Die kompetise het as volg plaasgevind:
Baan 1: skuts moes vanaf 'n bakkie skiet. Hoewel dit maklik voorgekom het, het baie skuts uit die bus geval.
Baan 2: daar is uit die staande posisie oor rekstokke geskiet.
Baan 3: skuts moes sit en oor x-kruise posisie inneem.
Baan 4: daar is ook uit die sit-posisie geskiet, oor 'n staander wat op en af kon skuif.
Baan 5: skuts het uit die sittende posisie geskiet oor rekstokke.
Baan 6: hier is die manne van die seuns geskei deurdat die naaste ghong 330 meter was en die verste een 390 meter. Skuts moes uit die staan posisie oor 'n baal skiet en gebruik maak van x-bags.
Die wenspanne was as volg:
Eerste: Ghong Busters - Jacques du Plooy, Junita van Zyl, Leras van Zyl en Raynor Becker.
Tweede: Hou ons dop - Renier van Greunen, Freek Zeelie, Hugo Moolman en Fermi Meyer
Derde: Span 6.5 - Niel Basson, Hugh Ives, Gert van Wyk en Francois Botes.
Die SJB-bestuur het alle borge te bedank vir hulle bydrae om skietsport in die Suid-Kaap lewendig te hou. Die borge sluit in Kloppers, ATKV, Klein Karoo Agri, verskeie anonieme skenkers en Henry en Martie van der Westhuizen vir hulle gasvryheid en die bystand wat gelewer was met die uitleg van die bane.
Die skietdag is afgesluit met 'n lekker saam-kuier in die stoor van Aangenaam, waar 'n ete voorgesit is.
"Ons bring u die nuutste Suid-Kaap nuus."