MOSSELBAAI NUUS - Die Tuinroete-tak van SA Jagters en Wildbewarings Vereniging (SAJWV), het onlangs 'n lede-vergadering by die Mosselbaai gholfklub gehou.
Dié tak se lede is versprei van Riversdal, deur die Klein Karoo tot op Plettenbergbaai. Dit is een van 80 takke dwarsoor die land met 'n totale ledetal van sowat 40 000 lede.
Gerhard van As, die voorsitter van die Tuinroete-tak, het lede verwelkom en die aand afgeskop met 'n terugblik van hofsake en bewaringsake wat SA Jagters op regeringsvlak aangaan sodat die wapeneienaar se wild- en jag-erfenis behoue bly.
Van As lê veral klem daarop dat min ander organisasies soveel ekstra myle loop om juis die vuurwapen-eienaar se saak te beveg. Die gasspreker van die aand was Koos Barnard, bekende redakteur skrywer vir die MAN/Magnum en SA Jagter tydskrifte. Koos het lede vermaak met 'n terugblik van sy loopbaan as skrywer en professionele jagter. Hierna het die voorsitter klem gelê op kommunikasie binne die Tuinroete-tak.
Die Tuinroete-tak het 'n whatsapp groep, wat slegs gebruik word om die tak se aktiwiteite te kommunikeer. Verder het Van As ook die nuwe SA Jagters webtuiste aan lede bekend gestel. SA Jagters-lede het 'n groot verskeidenheid van opsies met betrekking tot vuurwapen en lisensiëring hulplyne, trofeemetings, bewaringsake asook nasionale skiet kompetisies.
Volgens Van As is die uitstaande kenmerk van dié webtuiste, is die administrasie stelsel waar lede hulle daaglikse jagen sportskiet-aktiwiteite kan laai. Hulle kan dit aanlyn doen of deur die slimfoon applikasie af te laai, wat almal altyd byderhand het. Die stelsel is veilig en verwittig wapen eienaars vroegtydig van wapen herlisensiëring. Lede se toegewyde jag- en sportskiet-status word so outomaties aangeteken vir latere lisensiëringdoeleindes.
Die lede het die aand se vergadering ook aangeteken op die tak se tablet. Dit word dan teen sy lidnommer as 'n aktiwiteit aangeteken. Die voorsitter het ook die verskeie skietbane bespreek waarop die Tuinroetetak se aktiwiteite plaasvind. Die On Target tak 4km buite George, bied alle opsies aan met 50m-, 100m- en 300m-skietbane met skiettafels. Daar is ook verskeie pistoolbane.
Die tak bied ook skietdae aan in die Stilbaai- en Oudtshoorn-streke met toegewysde bane en plase. Die Outeniqua kleiteikenbaan by Glentana word gereeld gebruik vir haelgeweer-skiet. Maandeliks vind die pistoolskuts heenkome by On Target in die vorm van multi-dissiplinêre sportskiet-dissiplines. SA Jagters se Tuinroete-tak bied werklik 'n verskeidenheid van aktiwiteite aan om in elke vuurwapen-entoesias se behoefte te bevredig.
Hulle is toegespits op alle lede met 'n verskeidenheid van wapens, vermoëns en behoeftes. Kontak die voorsitter Gerhard van As op 082 771 4037 vir meer inligting. Die Tuinroete-skietspan, wat die 2de plek verwerf het by ‘n onlangse intertak skiet op Kareedouw. Van links: Gert Oosthuizen, Monte Bylsma, Estée Archer en Gerhan Archer. Estée was ook die vroue-wenner van die dag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’