MOSSELBAAI NUUS - Eden-jaggeweerskiet het gedurende die naweek van 21 September vir die derde agtereenvolgende jaar 'n suksesvolle Safari Outdoor Nightforce staalghong-uitdaging in die Waboomskraal-omgewing aangebied.
'n Totaal van 27 spanne van regoor Suid-Afrika het ingeskryf en die langpad aangedurf om deel te wees van hierdie prestige geleentheid.
Spanne het uit vier skuts bestaan met 90 mans, 12 vroue en ses juniors wat deelgeneem het.
Altesaam ses bane met vyf staalghonge elk is opgestel oor onbekende afstande wat gewissel het van 175 tot 385 meter. Skuts moes verder die bane uit verskillende jagposisies baas raak. Die Wolwe-span van Mpumalanga was die wenners in die kompetisieklas met Wen-span tweede en Team Savage, derde.
In die jagtersklas het die Aim, hold, send it-span van Riversdal as wenners uitgetree met Ghongbusters tweede en Guns & Roses, derde.
Inyathi, dié invoerders van Nightforce teleskope, tesame met Safari Outdoor het pryse ter waarde van R200 000 beskikbaar gestel.
Die geselligheid na afloop van die skiet het plaasgevind by Oppieplaas se lokaal in Waboomskraal.
Die Wolwe-span van Mpumalanga was die wenners in die kompetisieklas.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'