MOSSELBAAI NUUS - Sestien lede van die Eden-jaggeweerskiet het in Volksrust, Mpumalanga, aan die jaarlikse nasionale jaggeweerskietbyeenkoms deelgeneem.
Die topgeweerskuts - 50 mans, 20 vroue en 20 juniors - in Suid-Afrika is uitgenooi.
Die skuts moes op ses bane aan drie verskillende kompetisies deelneem. Elke skut is vyf skote per baan toegelaat en moes dus die toegelate 90 skote gebruik om vir die gesogte groen-en-goud in aanmerking te kom.
Agt skuts uit Eden is in die onderskeie SA spanne opgeneem. Manus Moolman is as junior in die senior Proteaspan opgeneem, voorwaar 'n merkwaardige prestasie.
Christo Delport en Jacques du Plooy het die SASSCO Presidentspan gehaal.
Onder die vroue het Junita van Zyl die vroueafdeling gebuit en is sy dus as die Proteaspan se voorste skut aangewys. Ander Eden-lede wat in die vrouespan opgeneem is, is Anita Butler en Marietha Moolman (reserwe).
Leras van Zyl en Anlo Ferreira (reserwe) het die junior Proteaspan gehaal.
Al die lede van Eden-jaggeweerskiet wat in die spanne opgeneem is, sal einde Julie in Bloemfontein aan die Wêreldbyeenkoms deelneem teen ander lande wat Namibië, Swede, Tsjeggië Republiek en Australië insluit.
Jacques du Plooy (tweede van links) en Christo Delport (middel) is Eden se twee lede wat in die SASSCO Presidentspan opgeneem is.
Manus Moolman (regs) 'n junior, is in die senior Proteaspan opgeneem.
Leras van Zyl (tweede van links) en Anlo Ferreira (regs) as reserwe, het die junior Proteaspan gehaal.
Junita van Zyl (links), Anita Butler (derde van regs) en Marietha Moolman (regs) as reserwe, is in die Protea-vrouespan opgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'