MOSSELBAAI NUUS - Nege skuts van die Eden-jaggeweerskiet is na afloop van die naweek se nasionale byeenkoms van die SA Jaggeweerskiet, in nasionale spanne opgeneem en sal later vanjaar aan 'n internasionale byeenkoms in Namibië gaan deelneem. Voorwaar 'n merkwaardige prestasie vir 'n klein distrik soos Eden.
Die byeenkoms het op 17 en 18 Mei op Joubertina in die Oos-Kaap plaasgevind. Jaggeweerskuts woon dié elite-byeenkoms by slegs op uitnodiging, gebasseer op prestasies behaal by die verskillende provinsiale opes wat landwyd gedurende 2018 plaasgevind het.
Hierdie uitnodigings word slegs gerig aan skuts wat die eerste 50 posisies beklee in die ope klas op 'n nasionale ranglys wat meer as 500 skuts reflekteer. Vir vroue en juniors word die uitnodigings gebasseer op die eerste 20 skuts in die onderskeie junior- en vroueklasse.
Die strawwe byeenkoms word oor twee dae en op drie bane beslis. Elke baan het ses skietpunte waar 'n jagsituasie gesimuleer word en vyf skote op 'n teiken geskiet moet word binne die toegelate tyd. Dit beteken daar word van elke skut verwag om konsentrasie te behou vir elk van die 90 skote wat die skut sal skiet gedurende die kompetisie.
Verder word daar van skuts verwag om sonder elektroniese toerusting die afstande en winsdspoed te skat.
Eden se skuts wat in die onderskeie nasionale spanne opgeneem, is onder meer Jacques du Plooy wat algeheel vierde eindig en in die Proteas se seniorspan opgeneem is, asook Christo Delport, wat 11de eindig en in die SASSCO Presidentspan opgeneem word.
In die vroue-afdeling is dit Junita van Zyl (2de), Anita Butler (3de) en Marietha Moolman (7de reserwe). Hulle word al drie in die Protea-vrouespan opgeneem.
In die junior-afdeling eindig Manus Moolman (1ste), Leras van Zyl (3de), Anlo Ferreira (5de) en Hans-Willem Moolman (6de). Hulle word opgeneem in die Proteas se juniorspan.
Hierdie nasionale spanne word deur slegs ses skuts plus 'n reserwe verteenwoordig.
Daar was verder van elke provinsie verwag om 'n span bestaande uit vier mans, vroue en juniors in te skryf vir die Saterdag se been van die kompetisie. Elkeen van die skuts se punte is dan bymekaargetel om 'n spantotaal te vorm. Ook hier het Eden-jaggeweerskiet uitstekend presteer. Die junior-, mans- en vrouespanne het onderskeidelik in die eerste plekke geëindig en sodoende met die louere weggestap.
Die SASSCO Presidentspan met Christo Delport (4) van Eden in die span.
Die Protea-vrouespan met twee Eden skuts, Anita Butler (4) en Junita van Zyl (5).
Die Protea-mansspan met Jacques du Plooy (4) van Eden in die span.
Die Protea-juniorspan met vier Eden skuts, Hans-Willem Moolman (1), Anlo Ferreira (2), Leras van Zyl (4) en Manus Moolman (6).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'