MOSSELBAAI NUUS - Skuts van die Noordwes en die Wes- en Oos-Kaap kom in Oktober vir ’n interprovinsiale skietkompetisie bymekaar.
Dié geleentheid word vanjaar vir die tweede keer deur die Suid-Afrikaanse sportskiet-, bewaring- en jagvereniging (Sascha) aangebied.
Verlede jaar is dit in Oos-Londen gehou, en vanjaar kom die opwinding na Mosselbaai.
Sascha is in 2024 gestig en verteenwoordig verskeie verenigings op nasionale vlak. Dit sluit die Suid-Kaap jagters- en bewaringsvereniging (SJB), die Oos-Kaapse wildsbestuurvereniging, die Border Hunting Club in Oos-Londen en SA Veldsport in Noordwes in.
Die vereniging sê hy fokus op die ondersteuning en ontwikkeling van gehalte familietyd in die natuur, hetsy deur bewaring, skiet of jag.
Riaan van der Weshuizen van die SJB sê toeskouers is welkom om die skuts in aksie te kom sien.
“Sportskietkompetisies verbeter skuts se skietvernuf, maak hulle meer vertroud met hulle vuurwapens en bevorder wapenhantering onder druk en in tydgebonde situasies,” sê hy.
Program
10 Oktober
• Randslag .22-geweer by die Wouter de Vos-skietbaan (08:00-14:00)
• Haelgeweer by die Outeniqua Clay Target Club (12:00-16:00)
11 Oktober
• Senterslag jaggeweer by die Moordkuil Sint-skietbaan (08:00-14:00)
• Handwapen by die Wouter de Vos-skietbaan (11:00-16:00)
Na afloop van die twee dae se verrigtinge is daar op 11 Oktober ’n prysuitdeling en ete by die Outeniqua Game Farm, om 18:30 vir 19:00.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’