TUINROETE | HESSEQUA SPORTNUUS - Heelwat hengelaars het die gunstige suidooste- en suidwestewind die afgelope 14 dae reg gelees en koers gekies viswaters toe vir kabeljou, witsteenbras en mosselkraker.
Die elfseisoen open eers op 1 Desember.
Sommige van die vangste
Hengelaars vertel oor die algemeen graag van hul vangste. As dit by die grootte kom, sal sommige manne so ietwat aandik, maar kom dit by wáár die vis gevang is, word die waarheid dikwels erg verdraai.
Miskien heel te verstane, want as jy jou geheime plekkie verklap, is al wat leef en beef volgende keer daar. Ek het nietemin uit geloofwaardige oorde van die volgende vangste verneem:
In die Stilbaai-omgewing het Zander de Beer 'n paar groot kabeljoue gevang en vrygelaat.
By Glentana se rotskus is een oggend vroeg drie mosselkrakers aan rooikrap gevang en ook vrygelaat.
Kleinkrans by George het verlede Saterdag minstens nege mooi witsteenbrasse opgelewer. Tiaan Swart, 'n student van Stellenbosch, het met 'n baie ligte stokkie 'n kabeljou van ongeveer 7 kg aan 'n paddle tail-kunsaas op die strand by Kleinkrans geflous.
Hoe ver om te gooi
Hierdie is 'n gereelde besprekingspunt onder hengelaars. Om ongekwalifiseerd te sê dat die ou wat die verste gooi die meeste vis vang, is verkeerd. So eenvoudig is dit nie.
Trouens, sommige hengelaars wat bloot baie ver kan gooi, som die see dikwels totaal verkeerd op en gooi dan keer op keer in die verkeerde areas, dikwels bo-oor die vis.
Moet egter nie 'n fout maak nie. Om ver en akkuraat te gooi, is 'n vaardigheid wat 'n hengelaar voortdurend moet inoefen. Daar is geleenthede, meestal op sandstrande, waar 'n lang gooi aan jou 'n besliste voordeel bied.
Vis wei soms naby die kant
By diepwaterplekke word vanaf hoë rotse gehengel en die water is diep tot teen die kant. Hier kan groot visse so naby as 20 m van die kant af gevang word. Visse soos galjoen en elf wei met hoogwater soms hier vlak voor jou.
Ook belman (baardman) tel jou wurm-aas of sandkrewel soms kwalik 15m van die kant af op. Wanneer lokaas by 'n vangplek ingegooi word, soos wanneer jy byvoorbeeld vir elwe hengel, kom tel hulle die lok-aas hier vlakby die kant op. Dis ook die plek om dan te gooi.
Aasvissies naby die kant wat kort-kort wild uitmekaarspat, is 'n teken dat daar 'n roofvis of twee in die omtrek is. Heel waarskynlik leervis. As jy nou vir hierdie vinnige menere 'n lewendige harder wil aanbied, gooi dit in die omgewing van die harders en nie 70 m anderkant hulle nie.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'