Video
HARTENBOS NUUS EN VIDEO - Sowat 25 inwoners van die Hartenrus-versorgingsoord in Hartenbos is deesdae ywerige pétanque-spelers.
Die spel is een van die oudste spelvorme. In die vroeë 1900’s, het 'n Fransman met die naam van Jules LeNoir, die spel ‘n bietjie verander en dit word steeds vandag wêreldwyd gespeel. Die woord word uitgespreek as “pêtank” en beteken letterlik “voete saam” of “voete geanker”.
Dit word buitenshuis gespeel waar twee spanne probeer om die boule so na as moontlik aan 'n merker te gooi. Die tegniek lê alles in die manier waarop die boule gegooi word. Dit verg nie baie inspanning nie en die boules is nie swaar nie.
Dis 'n heerlike sosiale spel wat in die vars buitelug beoefen word. Daar is reeds vier bane by die Hartenrus-oord voltooi met die hulp van borge. Volgens Gawie Botes, die organiseerder, hoop die Hartenrussers dat ander oorde ook spanne sal opmaak sodat die oorde kompeterend teen mekaar kan deelneem.
Die groep het die afgelope Dinsdag besluit om die heerlike herfsweer te benut deur op die strand by die Hartenbosriviermond te gaan speel, in plaas van op hul eie bane. Die goedige geskerts en gesonde sportmansgees wat geopenbaar is, is 'n bewys dat hierdie spel nog baie gewild gaan word en deur baie meer senior burgers geniet kan word. Die oudste deelnemer is Willie Nel wat reeds 86 jaar oud is en die jongste is Tinie Gericke (69).
Vir meer inligting, kontak Gawie Botes (044 606 7144 of 084 585 0873).
Kyk 'n video hieronder:
Gawie Botes (regs) kyk watter kleur boule lê die naaste aan die merker.
Die vrolike deelnemers wat die afgelope Dinsdag op die strand hul pétanque-spel geniet het.
Hartenrus-inwoners geniet die son en sand tydens hulle pétanque-spel die afgelope Dinsdagmiddag.
Hierdie bal lê!
'Ons bring jou die nuutste Hartenbos, Tuinroete nuus'