SPORTNUUS - Eben Fourie en Charles Collen van Hartenbos-rolbalklub is gekies om Suid-Afrika in die Visueel Gestremde Wêreldkampioenskap van 5 tot 16 Maart 2023 in Australië te verteenwoordig.
Eben is 'n B4-speler en Charles is sy "director" of gids.
Visueel gestremde rolbal word in vier kategorieë ingedeel. B1-spelers is totaal visueel gestremd terwyl B2-spelers lig en donker kan onderskei met beperkte visie van baie naby (byvoorbeeld makulêre degenerasie). B3-spelers sien bietjie meer en kan van enkelverkykers gebruik maak om die kop te sien. B4-spelers se sig is die beste, maar van die spelers kan net die helfte van die rolbalbaan sien. Sommige B4-spelers kan die kop sien, maar kan nie om hulle sien nie. Hierdie toestand word Retinitis Pigmentosa (tonnelvisie) genoem.
Elke visueel gestremde rolbalspeler se gesigsveld moet eers voor groot kompetisies geëvalueer en geklassifiseer word.
Die speler moet 'n gids hê. Saam vorm hulle 'n span, so, in kompetisies kry die speler en die gids dieselfde toekennings.
Eben het tonnelvisie en is nou vir die vierde keer gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig. Hy en sy vrou, Hannetjie, het die vorige drie keer in die enkelspel en gemengde parespel meegeding, en spog met drie goue medaljes, een silwer en een brons medalje.
Hulle was ook deel van die uitnodigingspan na Israel in 2014, waar hulle in enkelspel deelgeneem en 'n goue medalje verower het.
Charles het in 2017 en 2018 by Hannetjie oorgeneem as Eben se gids. Hul was toe nog Witbankers, van Witbank-gholf/rolbalklub. Charles en Eben het albei met hul gesinne in 2018 na Hartenbos verhuis.
Eben is ook 'n baie kompeterende speler teen siende spelers. "Om visueel gestremd te wees het Eben nie gestop of gekeer om sy passie vir rolbal uit te leef en te presteer nie. Vir hom is 'n ware kampioen iemand wat die vermoë en strewe het om sy doel te bereik - ten spyte van uitdagings en omstandighede," sê Hannetjie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'