TUINROETE | HESSEQUA NUUS - Op 17 Oktober het jukskeispelers vanaf Mosselbaai, Hartenbos, Worcester, George en Riversdal saamgetrek om hul vernuf met jukskeie uit te stal.
Daar is in drie afdelings - A, B en C deelgeneem. Die A- en B-spanne het teen mekaar gekompeteer en wel in 'n dubbelronde. Net so het die C-spanne mekaar in hul afdelings opgedreun.
Hartenbos se drie spanne in hul onderekeie afdelings het hulself deeglik laat geld en in elke afdeling in die eerste plek geëindig.
Die A-span van Hartenbos, verteenwoordig deur Elna van der Berg, Dolf Barnard, Bossie Boshoff en Sydney Stopforth, het hul teenstanders behoorlik opgedreun.
Die B-span, onder leiding van Hendry Gerber met sy drie makkers te wete Ewie Engelbrecht, Jan van Dyk en Johnnie Coetzee het geen gras onder hul voete laat groei nie en hul teenstaanders fluks afgestof.
Die C-span, bestaande uit die leier Chris Viljoen en spanlede Koot Swart, Elias Burger en Johan Brummer het met vyf ander spanne afgereken en gerieflik met 'n voorsprong van vyf punte in die eerste plek geëindig.
Twee spelers van Hartenbos te wete Malie Pienaar en Louis Minnaar het een van Riversdal se spanne uitgehelp en wel op 'n aflosbasis.
Die afwesigheid van Buks Scholtz, gereelde voorgooier van Hartenbos se A-span, is meesterlik aangevul deur Elna van der Berg wat onglangs hierheen verhuis het vanaf Gauteng-Noord. Met haar en haar eggenoot, Johan, se vestiging op Hartenbos word Hartenbos se klub aansienlik versterk. Nie slegs haar vaardigheid met jukskeie word raakgesien en waardeer nie, maar administratief het sy 'n wye kennis wat daadwerklik ingeploeg word.
Sy is onmiddellik verkies tot sekretaresse om ook haar wye ervaring doeltreffend te beoefen. Terloops, Buks Scholtz is tydelik ongesteld maar behoort binne afsienbare tyd sy gesogte posisie as voorgooier weer in te neem.
Die finale uitslae was soos volg (punte in hakies):
- A-afdeling: Hartenbos het onder die vaandel van Eden Distrik in die A-, B- en C-afdeling deelgeneem. Eden A (63); Worcester (47½).
- B-afdeling: Eden (42); Worcester (27½).
- C-afdeling: Eden (61½); Riversdal C1 (56½); Mosselbaai (34½); Riversdal C2 (33); Riversdal C3 (25); Riversdal C4 (14½).
Na afloop van die toernooi is pryse aan die eerste drie plekke verower in elke afdeling, toegeken. Hierdie gebaar van die Eden-bestuur word hoog waardeer.
Die volgende volwaardige interdistrikte toernooi word op 31 Oktober van stapel gestuur en wel op die pragtige jukskeiterrein van Wellington.
Die vier bestaande distrikte te wete Eden; Kaapse Wynlande; Overberg en die Westelike Provinsie sal kragte meet.
Eden spelers, neem kennis dat die Eden-distrikspanne binne die volgende week van die gekose spelers gekommunikeer sal word en wel per WhatsApp.
Die Riversdal C1-span eindig 2de in die C-afdeling: Emmie Prinsloo, Duipie van Zyl, Jackie Hanekom en Johan van Dyk.
Die Worcester A-span wat bestaan uit Jaco Immelman, Theana van der Walt, Tiaan van der Walt en Hennie van Deventer, verower 2de plek in die A-afdeling.
Hartenbos C-span. Die Eden C-span verower 1ste plek: Elias Burger, Koot Swart, Chris Viljoen, Johan Brummer en Louis Minnaar.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa nuus'