Twaalf spanne aan die eerste ronde van die mans- en dames-driespel deelgeneem. Vier dames- en twee manspanne het deelgeneem.
Soos altyd het deelnemers harde bene gekou om bo uit te kom en elke wenner was 'n waardige presteerder. Die Warwick-borgdag het op 22 Februarie plaasgevind met 22 spanne wat meegeding het om die eerste prys. Die kompetisie het bestaan uit drie wedstryde van 14 koppe elk.
Die uiteindelike wenners was Chris Homan en sy span van Vista. Brian, wat die dag geborg het, en sy span was tweede, met Anton le Roux en sy span van Hartenbos wat met die derde prys weggestap het. Die spanne van Ernie Thünemann, Jocy Scheepers en Frikkie van Antwerpen het ook in die louere gedeel.
Op Saterdag, 25 Februarie het 12 spelers,vier vroue en agt mans, die klub besoek om aan die eerste rondte van die Suid-Kaap mans- en dames ope-enkels deel te neem. Die kompetisie was sterk.
Vir die week van 27 Februarie tot 2 Maart het Telkom sy jaarlikse somer-sportkompetisie, waaraan ses streke deelgeneem het, by die Hartenbos rolbalklubbane aangebied. Daar is aan al die formate, 4-spel, 3-spel, pare en enkels, deelgeneem. Daar is versoek dat spelers aangewys moes word vir 'n nasionale span en, onder die bekwane leiding van Susanna van Niekerk, Anton le Roux, Anton van Niekerk, Das van Greunen en Alma Heyman is 'n gedugte span saamgestel.
Die Spar-borgdag van Februarie is weens die Telkom-week eers op 6 Maart aangebied. Die dag het weer sy kwota spelers gelok en is daar hard om die eerste prys meegeding. Nellie Human, uit die Karoo en haar span het stof in die oë van Lenie Engelbrecht geskop wat tweede geëindig het, met en Eddie Prins in die derde plek. Die American-formaat is gebruik en arme ou "Sipho" moes lelik bontstaan om te sorg dat die regte spanne met die regte pryse wegstap.
Die klub herinner alle rolbalspelers dat die laaste Dinsdag van die maand Spar-borgdag is. Alle deelnemers is welkom.
